Keer die onophoudelike gekrap


   15 December 2016   l   Justin Steyn    l   Views: 47   

 

'n Onaangename reuk of ontsteekte ore is 'n teken dat honde met 'n allergie sukkel.


Wanneer ’n hond se gedurige gekrap, gelek, gejeuk en geskud van die ore ’n mens teen die mure uitdryf, is daar ’n oplossing. 

Allergieë kom baie algemeen by honde voor. Meer as die helfte word deur vlooie en ander omgewingsallergene soos stuifmeel, skimmel en huisstofmyte veroorsaak. 

Dr. Guy Fyvie, veterinêre raadgewer van Hill’s Pet Nutrition Suid-Afrika, sê allergiesimptome is dikwels op die vel sigbaar. “Dele om die voete, gesig, ore, armholtes en geslagsdele word die meeste aangetas. Eienaars sal dalk ook haarverlies en die vorming van korse en rowe opmerk.”

Omgewingsallergieë kan seisoenaal wees en veral in die lente en somer voorkom (byvoorbeeld weens stuifmeel) of regdeur die jaar ’n probleem wees (byvoorbeeld weens huisstofmyte). Die hond krap, byt of lek onophoudelik om die gejeuk te verlig, wat dikwels die vel beskadig. Dit laat allergene makliker binnedring, wat sekondêre velinfeksie (soos die gevreesde “hotspots”) veroorsaak. Hierdie krap-jeuk-krap word ’n bose kringloop wat uiters moeilik is om te breek of te beheer. 

Volgens Fyvie sou ’n mens in die perfekte wêreld die allergeen heeltemal kon vermy. “Dit is egter nie altyd moontlik nie, veral nie met goed soos stuifmeel of huisstofmyte in die omgewing nie. Nougesette beheer van vlooie is uiters noodsaaklik.” 

Daar is ook ’n nuwe soort kos op die mark wat kan help om ’n verskil te maak. Dié kos is saamgestel om omgewingsallergene te keer, verkieslik voor dit ’n reaksie aan die gang sit,” het Fyvie gesê. “Dit bevat ’n mengsel van voedingstowwe wat die vrystelling van histamien en inflammatoriese sitokiniene wat die gejeuk veroorsaak, verminder en so die vel van binne gesond hou.”

Behalwe ’n velirritasie, kan ’n onaangename reuk of ontsteekte ore ook by honde wat met allergieë suk-kel, bespeur word. “Besoek dadelik ’n veearts as jou hond tekens van allergieë toon. Vroeë ingryping kan die bose krap-jeuk-krap-siklus stop voor dit begin en ernstige komplikasies, ongemak en stres help voorkom,” sê Fyvie.

 

 

 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first

 

Ander stories

 
 

Hoofnuus