HOOFSTORIES: •   Skok ná speaker onverwags bedank   •   Diensverskaffer begaan flater met rekeninge   •   EFF plak nou op ander stuk grond   •   Eskom gaan nie krag sny   •   Ondersoek ná klagtes oor polisie   •   Bela-Bela-inwoners loop deur onder otm-boewe   •   GPF ontbind ná klagte teen hoof   •   'Doom-profeet' se verhoor begin   •   Vrou sterf op R101-pad   •   Poging tot plaasaanval glo vals alarm   •   Dorp moontlik sonder krag   •   Jagters vereer   •   Hoërskool Warmbad-leerders presteer   •   Atlete sweet tydens gewilde marathon
 

 
 

 

Klop eksamenstres só


   03 November 2017   l   Ronél van Jaarsveld    l   Views: 56   l   20 days ago  

 


Die matriekeksamen is in volle swang en vir ander leerders lê hul beurt om rekenskap van die jaar se werk te gee, om die draai. 

Spanning loop dié besige tyd van die jaar dikwels hoog. Vir baie leerders is dit ’n groot vrees dat hulle ná al die ure van hard leer, voor ’n vraestel sal sit en ewe skielik niks kan onthou nie. 

Emmanuel Davel, ’n kliniese sielkundige op Modimolle, gee goeie raad hoe om te keer dat jy nie “’n blank slaan” nie. “Dit gebeur meestal as ’n mens angstig raak. Angs is toekomsgeoriënteerd — dit fokus nie op nou en hier nie, maar op dinge in die toekoms soos ‘wat sal gebeur as ek druip?’ of ‘wat as ek nie alles kan antwoord nie?’. As dit gebeur, moet jy probeer om weer te fokus op die hier en nou,” het hy gesê.

“Een van die maniere waarop ’n mens dit kan regkry, is om vir vyf minute op ’n mens se sintuie te fokus. Kyk wat jy om jou sien en soek na iets wat jy nog nie vantevore raakgesien het nie. Maak jou oë toe en ruik die reuke om jou. Luister dan na wat alles om jou aangaan. Laastens, vir die tassintuig, kan gebruik gemaak word van iets soos ’n stresballetjie of uitveër — druk daaraan en konsentreer op hoe dit voel.  

“Op dié manier anker ’n mens jouself en kom weg van die angstigheid,” is Davel se raad. Dié stappe kan sommer daar waar die leerder in die eksamenlokaal sit, gedoen word. 

Davel gee nog ’n paar punte waarna leerders kan kyk om hul spanning te verminder. 

  • Beplan en organiseer jou tyd. Werk uit hoeveel dae beskikbaar is vir elke vak en breek groot stukke leerwerk op in kleiner dele. Werk elke dag ’n bietjie, dan hoef jy nie gedurende die eksamen tot laatnag te sit en leer nie. 
     
  • Leer op die regte manier. Lees die werk meer as een keer stadig en aandagtig deur. Verstaan dit, anders gaan jy dit nie onthou nie. Breek die inligting op in kleiner dele deur opsommings of spinnekopdiagramme. Daarna is die geheim herhaling. 
     
  • Rus tussenin. Navorsing wys dat ’n mens sowat 50 minute lank kan konsentreer, waarna ’n mens 15 minute moet rus. Neem later ’n langer breek van ’n uur en doen iets heeltemal anders as om te leer.  
     
  • Pas jou lyf op. Eet gebalanseerd en wees versigtig vir energiedrankies en sjokolade. Dit gee tydelike energie, maar laat ’n mens daarna vinnig moeg voel. Kry genoeg oefening, want dit verhoog jou hartklop en gee meer suurstof aan die brein. Slaap genoeg. Een van die funksies van slaap is om langtermyngeheue te konsolideer deur nuwe neurale verbindings te versterk.

Ouers wat bekommerd is oor hul kinders wat simptome van angs en depressie toon, kan die Suid-Afrikaanse Angs en Depressiegroep (Sadag) se 24-uur hulplyn skakel vir raad by tel. 0800 12 13 14.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories