HOOFSTORIES: •   Storm rig groot duisende rande se skade aan   •   Geliefde skoolhoof sterf   •   Onherkenbare lyk op grondpad gevind   •   LUR positief oor Limpopo-ekonomie   •   Sakevrou in hof oor handtekening   •   Skuld oor water op ou pype gepak   •   Fonds help leukemie-lyer   •   Modimolle dalk dorp van die jaar   •   CFO aims for improved audit   •   Biblioteek kleur wêreld anders in   •   Versigtig met sosiale media en misdaad   •   Resep: heerlike kolwyntjies   •   Sy passie laat verlede herleef   •   Oud-Drakie sing weer ná motorongeluk   •   Sport: Silwer vir stoeier by Statebondspele
 


 
 

 

Bela-Bela se gewilde Spar verrys uit die as


   16 March 2018   l   Die Pos-span/The Post team    l   Views: 1271   l   35 days ago  

 

Opruimingswerk het by die Spar-kompleks op Bela-Bela begin nadat dit verlede jaar afgebrand het. Inwoners kan ’n nuwe, kleiner Spar teen Oktober verwag. Op die foto is werkers besig met voorbereiding vir verdere opruimingswerk.


Inwoners van Bela-Bela gaan heel waarskynlik voor die einde van die jaar weer hul rooi en groen trollies gangaf kan stoot in ’n pragtige, splinternuwe Bela-Bela Spar.

Die stof het egter nog lank nie gaan lê rondom die afbrand van dié gewilde supermark nie en hofsake is na alle waarskynlikheid in die vooruitsig in wat beskryf word as ’n “politieke skaakspel wat in ’n fiasko ontaard het”.

Die Pos het verlede jaar in September berig oor die skoknag toe dié winkel voor die oë van helpers en inwoners afgebrand het terwyl daar nie water in die dorp se krane was om die vlamme te blus nie. Nooddienspersoneel het boonop gespook met toerusting wat nie gewerk het nie. 

Die brandweer was genoodsaak om by verskillende noodreservoirs op die dorp water te gaan haal om die vlamme te probeer blus, maar alles in die gebou is vernietig.

Die erwe waarop die Spar sake gedoen het, behoort aan verskillende eienaars: Wiehahn (snr.) en Carel Coetzee, Emerine Ernst en Eddie Alberts.

Tinus Ras, DA-raadslid van die Bela-Bela-munisipaliteit, het die afgelope week die sluier vir Die Pos gelig oor die verwikkelinge by die Spar-kompleks. Ras het as versekeringsmakelaar van die PSG-groep ook die een deel van die versekeringseis afgehandel. Dit is die deel wat aan Ernst en Alberts behoort. 

Volgens Ras is dié eis uitbetaal en is daar reeds met opruiming begin en is die planne gereed vir bouwerk aan ’n nuwe Spar-kompleks. 

Dit sal op die bestaande perseel wees en sal weer — net soos in die “ou dae” deur Carel Coetzee en sy span bestuur word.

Die ander deel van die eis, naamlik dié van Wiehahn en Carel Coetzee, is deur ’n ander makelaar hanteer en dié eis is vol-gens Ras afgekeur op grond van beweer-de “foute” op Bela-Bela SuperSpar se munisipale okkupasiesertifikaat.

Volgens Ras beweer die munisipaliteit dat hulle (die munisipaliteit) nooit so ’n sertifikaat aan Bela-Bela SuperSpar uitgereik het nie. Die Pos verneem egter op goeie gesag dat daar wél bewyse en stawende dokumente bestaan om die teendeel te bewys. ’n Bron na aan die ondersoek het aan Die Pos gesê: “Indien die sertifikaat dus nooit uitgereik is nie, beteken dit in werklikheid dat ’n hele inkopiesentrum onder die Bela-Bela-munisipaliteit se neuse gebou is sonder dat hulle dit ooit agtergekom het.” 

 “As die munisipaliteit nie die sertifikaat uitgereik het nie, sou SuperSpar geen elektrisiteit gehad het nie en ook nie kon handeldryf nie,” het Ras ook bevestig. Volgens hom is die ou SuperSpar-gebou se bouplanne by die munisipaliteit beskikbaar, maar daar is geen goedkeuringstempel of handtekening wat toon dat dit destyds goedgekeur is nie.

“Tot dusver kon die munisipaliteit nie bevestig of die destydse bouplanne ooit goedgekeur is nie, wat tot onnodige vertragings gelei het,” het Ras gesê. 

Ras het gesê die gedeelte naby die Tops-drankwinkel gaan plek maak vir ’n nuwe Spar en bouwerk sal binnekort daar plaasvind.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoer-der van die munisipaliteit, het by na-vraag oor die aangeleentheid slegs gesê die munisipaliteit het alle relevante doku-mente in die saak aan die Spar-bestuur oorhandig en hulle sal hul samewerking in die ondersoek gee. 

Carel Coetzee het by navraag aan Die Pos gesê: “Alle bewysstukke is reeds in Desember 2017 aan die waarnemende munisipale bestuurder oorhandig, maar geen regstelling is gedoen nie. Volgens Coetzee is daar genoegsame bewyse dat die planne wél goedgekeur is en dat die munisipaliteit boonop versuim het om hul afskrifte te laat waarmerk. 

Coetzee het gesê regshulp is reeds ingewin met betrekking tot hofsake teen verskeie partye wat betrokke was by die ontwikkeling van die SuperSpar-sentrum in 2008/2009, asook die partye wat betrokke was by die versekeringseis wat ná die brand ingestel is. 

Hy het gesê hy kan nie tans meer besonderhede daaroor gee nie, omdat die saak sub judicae is, maar hy het bevestig dat hy wel weer betrokke sal wees by die bestuur van die nuwe Spar. “Ons sien uit daarna om spoedig weer tot diens van die gemeenskap te wees.” 

Hy het gesê die onderneming se personeellede was sedert 23 September verlede jaar tot 16 Februarie vanjaar by verskeie gemeenskapsprojekte in en om die dorp betrokke en het gesamentlik meer as 74 000 uur gemeenskapsdiens gedoen. “Dit was vir ons en ons werk-nemers ’n voorreg om die gemeenskap, wat ons deur die jare lojaal ondersteun het, te kon dien.” 

Wat die voormalige personeellede betref het Coetzee aan Die Pos gesê: “Alle werknemers is aanvanklik ten volle betaal, maar moes noodgedwonge nou afgedank word omdat die verseke-ringseis geweier is. Dit het ongelukkig ’n negatiewe uitwerking op die gemeenskapsprojekte. Ons gaan wel poog om daarmee voort te gaan, maar op ’n baie kleiner skaal.”

Hy het gesê Spar-hoofkantoor het intussen oorbruggingsfinansiering beskikbaar gestel aan die Istores-groep (waarvan Bela-Bela Superspar se eienaars vir meer as 34 jaar deel is) sodat daar met die bouprojek voortgegaan kan word en die hangende hofgeding nie die bouwerk verder vertraag nie.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories