HOOFSTORIES: •   Ons het die gees ja man ja!   •   Mookgophong dae lank sonder water   •   Varke op vragmotor in vlammehel   •   Kind (13) al 30 dae weg   •   Vyf vas ná plaasaanval   •   Ongeluk nadat agent agter stuur flou word   •   Dorp op dieselfde pad as Kaap   •   Woede oor beskuldiging op Facebook   •   Renoster het nie 'aangeval'   •   Riders take on 1162km for disadvantaged schools   •   Miljoendollarduif mik vir Verenigde State   •   Droogte kniehalter Bosveldmyl
 

 
 

 

Santie Meininger oorlede


   19 January 2018   l   Andries van der Heyde    l   Views: 83   l   36 days ago  

 

Santie Meininger (82) van Bela-Bela is verlede naweek in die Montana-hospitaal in Pretoria se intensiewesorgeenheid oorlede.


Een van die eerste inwoners van die destydse Warmbad, Santie Meininger (82), is op Saterdag, 13 Januarie, in die intensiewesorgeenheid in Montana-hospitaal in Pretoria oorlede. 

Volgens haar familie het Meininger se gesondheid die afgelope tyd baie afgeneem en sy was in en uit die hospitaal. 

Meininger is in Magoebaskloof gebore en het haar hoërskoolloopbaan aan Hoërskool Piet Potgieter voltooi. Sy het ná skool in Pretoria as verpleegster gekwalifiseer en haar praktiese opleiding in die destydse Pietersburg voltooi. 

Meininger het oor die jare op Bela-Bela beland toe sy vir ’n vriendin by die Warmbad-hospitaal moes instaan. Dit is waar sy haar man, Anton, ontmoet het. 

Anton was die eerste inwoner wat ’n apteek op Warmbad begin het en het later burgemeester geword. Sy pa, James Meininger, was een van die belangrike rolspelers wat die dorp se infrastruktuur op die been gebring het, het die familie gesê.

Santie en Anton is in 1957 getroud en het twee dogters. Hulle was langer as 50 jaar getroud.

Santie was veral aktief by sport betrokke en het in korfbal, gholf en muurbal presteer. Sy was in ’n stadium vrouekaptein van die dorp se gholfklub.

Die familie het gesê sy was veral baie lief vir diere, lees en was ’n puik kok — veral bekend vir haar koffiekoekies. Sy was ook lief vir mense en ’n geesdriftige tuinier.  

Sy het by die Warmbad Rusoord gewerk voordat sy afgetree het. Anton is in 2012 oorlede.

Santie se begrafnis vind op Donderdag, 18 Januarie, om 11:00 vanuit die NG Warmbad Wes-gemeente op die dorp plaas. 

Ds. Willie Potgieter, wat die diens sal waarneem, het by navraag gesê Santie en haar man was altyd voorlopers in die kerk en was te alle tye aktiewe gemeentelede.

Sy laat haar twee dogters, haar kleinkinders, asook agterkleinkinders agter.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories