HOOFSTORIES: •   Ons het die gees ja man ja!   •   Mookgophong dae lank sonder water   •   Varke op vragmotor in vlammehel   •   Kind (13) al 30 dae weg   •   Vyf vas ná plaasaanval   •   Ongeluk nadat agent agter stuur flou word   •   Dorp op dieselfde pad as Kaap   •   Woede oor beskuldiging op Facebook   •   Renoster het nie 'aangeval'   •   Riders take on 1162km for disadvantaged schools   •   Miljoendollarduif mik vir Verenigde State   •   Droogte kniehalter Bosveldmyl
 

 
 

 

Vroue byna op trein wat teen vragmotor bots


   19 January 2018   l   Lorrain Loots    l   Views: 226   l   36 days ago  

 

Sophie Coetzee van Vaalwater kyk tydens die Desembervakansie uit oor die see by haar kleindogter, Flooi Smith, se blyplek in die Strand in Kaapstad. Sy het saam met haar dogter, Hester van Staden, op die Shosholoza Meyl daarheen gereis.


’n Vrou van Vaalwater glo dit is net genade dat sy en haar dogter nie passasiers op die Shosholoza Meyl-trein was wat vroeg in Januarie buite Kroonstad in die Vrystaat teen ’n vragmotor gebots het nie.

Altesame 19 mense is in die ongeluk dood en 254 beseer.

Sophia Coetzee het jare lank op die plaas Uitval in die Vaalwater-omgewing saam met haar oorlede man, Niek, geboer. Deesdae woon sy op die dorp. 

Sy het diep spore in die gemeenskap ge-trap en onder meer vir 30 jaar (vanaf 1960 tot 1990) die destydse skoolbus in die distrik bestuur waarvan 21 jaar vir die destydse plaasskooltjie, Laerskool Bulgerivier, was. Met die sluit van Bulgerivier se deure het sy die kinders met ’n kombi na Laerskool Vaalwater aangery. 

Om trein te ry is egter vir haar ’n nuwe belewenis en toe haar oudste dogter, Hester van Staden van Hartbeespoort, haar ma einde verlede jaar saamnooi op ’n treinrit na Van Staden se dogter en Coetzee se kleindogter, Flooi (Sophia) Smith, in die Kaap, het sy die geleentheid aangegryp. Maar hierdie keer sou sy nie agter die stuurwiel inskuif nie. 

Smith woon saam met haar man, Lourens, en hulle twee dogters in die Strand in Kaapstad en het met groot verwagting uitgesien na hul ma en ouma se kuier. 

Van Staden en Coetzee het hul kaartjies op die Shosholoza Meyl vir Dinsdag, 11 Desember, bespreek. Die Shosholoza behoort aan die Passasiersspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) en is die grootste pendelspoordiens in die land.

“Dit was vir my ’n droom. Ek was al op baie plekke en het met baie dinge te doen gehad, maar die treinrit sou ’n belewenis wees,” vertel Coetzee.

Die twee reisgenote het veilig per trein in die Kaap aangekom, maar die familie het net daarna ’n groot terugslag beleef. Van Staden het ’n ligte beroerte gehad en dit was vir Coetzee ’n “groot skok”.

Sy is in die Busamed-kliniek in die Kaap behandel. Van Staden kan nie uitgepraat raak oor die puik diens wat sy by dié kliniek ontvang het nie. 

Van Staden, wat tot Sondag, 14 Januarie, by haar ma op Vaalwater gekuier het, vertel dat die beroerte die “vreemdste sensasie” was om te beleef. “Alles aan my regterkant het styf getrek. Ek was van balans af en ek het naalde en spelde in my hande gevoel, maar ek is nou piekfyn. Ná die tyd het ek selfs op my dogter en kleinkinders se motorfietse gery.” 

Ná ’n heerlike rustyd in die Kaap, was dit tyd vir ma en dogter om hulle terugreis te beplan. Van Staden wou graag op Vrydag, 5 Januarie, terugkeer, maar die trein was reeds vol en die vrou by die kaartjiekantoor het hulle meegedeel dat daar net plek op die trein op Donderdag, 4 Januarie, was, maar dat hulle dan ’n kompartement met ’n derde persoon moes deel. “My ma se rolstoel neem baie plek en ons het nie kans gesien vir die lang rit saam met ’n vreemdeling nie. Ons het dus kaartjies bepreek vir Donderdag, 11 Januarie.

Die Shosholoza Meyl het op Donderdag, 4 Januarie op die Kaap-Johannesburg-lyn buite Kroonstad ontspoor nadat dit teen ’n trok gebots het.

Die twee vroue glo dat dit net ’n bestiering van Bo was dat hulle nie op dié trein was nie.

Hulle was heel senuagtig tydens die terugrit, maar Van Staden vertel tong in die kies dat die trein so versigtig en stadig gery het dat hulle sewe uur agter skedule was. 

“Dit was so erg. Mense wat bespreek het om Polokwane toe te gaan, het hul aansluittrein verpas. Prasa het hulle egter gratis met ’n bussie geneem tot waar hulle op die trein kon klim,” het Van Staden gesê.

Vir dié twee vroue was die treinrit steeds ’n heerlike ervaring. “As ek my hart op iets gesit het, wil ek dit doen. ’n Treinrit bly vir my die beste.”

 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories