HOOFSTORIES: •   Inwoners vies oor vullis in veld   •   Waterkrisis dreig op Mookgophong   •   Polisievrou beseer in ongeluk   •   Groot skade by onderneming ná brand   •   Vroue byna op trein wat bots   •   Hou diere koel op warm dae   •   Unieke skaapras onder die hamer   •   Nuwe baadjie vir begraafplaas   •   Korrupte polisielede in hegtenis   •   Voer op trok vat vlam   •   Leiers reg vir uitdagings
 

 
 

 

Munisipale skuld moet beter bestuur word, sê DA


   15 December 2017   l   Andries van der Heyde    l   Views: 197   l   37 days ago  

 


Die Bela-Bela-munisipaliteit sal in die nuwe jaar dringend aandag aan die invordering van agterstallige skuld moet gee, meen die DA.

Die Bela-Bela-munisipaliteit se skuldinvordering ry na verneem word die afgelope paar maande wipplank aangesien dit op tye nie aan die norm (95%) voldoen nie. Skuldinvordering het egter in die laaste twee maande verbeter, het Tinus Ras, DA-raadslid en lid van die finansiële komitee, die afgelope week aan Die Pos gesê.

Dit het tydens die onlangse transformasie-, begroting- en tesouriesubkomiteevergaderingsverslae van die munisipaliteit aan die lig gekom dat die munisipaliteit se kapitale-, instandhouding- en operasionele uitgawes nie aan die nasionale norm vir munisipaliteite voldoen nie. 

Ras het gesê amptenare se salarisse het wel binne die norm geval, maar om meer mense aan te stel sal nie in belang van die dorp wees nie.

Luidens die verslag het die bedrag wat munisipale werknemers die munisipaliteit teen einde Oktober geskuld het, op R516 841 gestaan. Volgens Ras is daar twee amptenare wat die munisipaliteit in die omgewing van R100 000 elk skuld. 

Raadslede se algehele skuld beloop vol-gens Ras R30 968, maar luidens die verslag is daar reëlings in terme van die kredietbeheerstelsel getref om hierdie skuld te vereffen.

Die dorp se totale munisipale skuld het aan die einde van Oktober ’n astronomiese R126 473 740 beloop, wat belasting- en dienstegeld ingesluit het. 

Oktober se skuld het neergekom op R25 276 340 vir sakepersele, R25 209 062 wat deur die boerderygemeenskap geskuld word en R65 511 966 wat deur inwoners van wooneenhede geskuld word. 

“Die munisipaliteit sal meer druk op inwoners wat nie vir dienste betaal nie moet plaas aangesien daar volgens die verslag ook geen dagvaardings uitgereik word nie. Daar is wel waarskuwings uitgestuur en van die persele se krag is summier weens niebetaling afgesny,” het Ras gesê. 

Hy het gesê die munisipaliteit het die afgelope ruk altesame 1 348 waarskuwings aan mense uitgestuur om rekeninge te vereffen. Altesame 2 176 voorafbetaalde kragbokse se elektrisiteit is verder afgesny omdat mense nie betaal nie. 

Volgens Ras sal inwoners oor Desember krag en water hê indien hul rekeninge vereffen is, maar inwoners wat “daaraan gewoond geraak het om hul rekeninge deur die munisipaliteit af te skryf, sal aanstaande jaar harde klippe kou wanneer die 50%-korting tot ’n einde kom”.

Ras het gesê dit is onwettig vir munisipaliteite om regeringstoelaes te gebruik om munisipale bedryfskostes te dek weens swak invordering of uitstaande skuld.

  • Daar sal voorlopig geen bouwerk in Desember aan die waterinfrastruktuur in Wyk 1 op die dorp gedoen word nie. Indien mense tydens die feesseisoen watertekorte of kragprobleme ondervind, moet hulle dit onder die munisipaliteit se aandag bring by tel. (014) 736 8000 of die noodnommer by tel. 0800 736 800 skakel. 

    Ras het gesê die munisipaliteit se tegniese afdeling lewer goeie diens en reageer goed op probleme. 

 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories