HOOFSTORIES: •   Reën veroorsaak skade; dam nog leeg   •   Sakke dagga gevind   •   Jong leerder vergruis kakebeen ná val   •   Grond op Vaalwater onwettig betree   •   Kontrakteur sê hy is omkoopgeld gevra   •   Afriforum maak dorp skoon terwyl werkers staak   •   Inwoners keelvol vir dienslewering   •   Liggiehuis lok van heinde en ver   •   Munisipale skuld moet beter bestuur word   •   Disabled people also need a future   •   Brief: vat inwoners vas oor vullis   •   Eskom krag-krisis afgeweer   •   Twee renosters buite Vaalwater gestroop   •   Quick recovery after reports of stolen vehicle   •   Organisation to equip youth with skills
 

 
 

 

Bela-Bela se behuisingsnood bly ’n groot kopseer


   01 December 2017   l   Die Pos-span/The Post team    l   Views: 195   l   17 days ago  

 

Foto ter illustrasie.


Die stof het steeds nie gaan lê om Bela-Bela se behuisings- en plakkersprobleem nie.

Die dorp sit al bykans twee jaar met ’n plakkersprobleem op Uitbreiding 25.

Die grond lê aan die linkerkant van die Alma-teerpad, langs Tuin Tuiste-oord. 

Die hof het reeds bepaal dat die plakkers verskuif moet word, maar dat alternatiewe behuising aan hulle beskikbaar gestel moet word.

Die afgelope maand het ’n groep EFF-lede probeer om aan die regterkant van die Alma-pad op munisipale grond te plak. Hulle is daar verwilder en volgens die polisie is daar intussen ’n kriminele klag oor dié beoogde plakkery geopen (Sien berig op bl. 2).

Die afgelope maand het plakkers ook strukture begin oprig op grond in Uitbreiding 26, in dieselfde omgewing, wat aan die Bela-Bela-ontwikkelaar, Fred van Heerden, behoort.

Risimati Ntekele, waarnemende munisipale bestuurder, het verlede week tydens die eerste openbare vergadering van Bela-Bela se jongste geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) gepraat oor die munisipaliteit se “wenslys” vir die volgende vyf jaar. Volgens dié plan beoog die munisipaliteit behuisingsprojekte in Tsakane (120 eenhede), Uitbreiding 9 (927), Uitbreiding 25 (350), Jacob Zuma (1 800), Hostel View (130), Leseding (170) en Masakhane (161).

In die plan, waarvan Die Pos ’n afskrif besit, word daar voorts genoem dat daar ondersoeke is na die moontlikheid van behuisingsontwikkelings op Erf 1491 (Uitbreiding 25 in Koppewaai), Hetbad 465 KR (die betrokke stuk grond waarop die EFF probeer plak het), Gholfbaanpark en Royal Northlands (naby die Bela-Bela-polisiestasie).

David Rabololo, munisipale woordvoerder, het egter by navraag aan Die Pos gesê hoewel die munisipaliteit talle moontlikhede vir behuisingsontwikkelings ondersoek, is daar tans geen besliste planne om die stuk grond — waaroor die herrie losgebars het en wat nou in die polisieondersoek oor die plakkery ter sprake is — te ontwikkel nie. Rabololo het gesê dié grond is steeds as landbougrond gesoneer.

Kobus van der Merwe, DA-raadslid op Bela-Bela, het in reaksie hierop gesê die DA se voorstel rakende dié grond is dat dit nie nou ontwikkel moet word nie, en indien later, dat dit vir middel- en hoëinkomstebehuising ontwikkel moet word. Volgens Van der Merwe is daar egter tans ’n oorvoorsiening van middel- en hoëinkomstebehuising en is daar gratis grond op Towoomba vir laekoste-behuising beskikbaar.

Die GOP-plan het volgens Van der Merwe nog nie voor die raad gedien nie. Eers wanneer dit aan die raad voorgelê word, kan die publiek genooi word om insette te lewer.

Van der Merwe het gesê die ANC op Bela-Bela se gebrek aan visie en beplanning is nou besig om hulle in te haal. 

“Die DA het die ANC reeds in 2010 daarop gewys dat beplanning gedoen moet word om grond beskikbaar te stel. Die ANC het in 2013 die plaas Roodekuil, wat aan Fred van Heer-den behoort, vir laekostebehuising geoormerk. Die DA het daarteen gestem. Alle besware, ook uit sakegeledere, het die beskikbaarheid van water, ordelike beplanning, stadspreiding (urban sprawl), die afstand vanaf die sakekern, skole en klinieke as sentrale punte gehad,” het hy gesê.

“Daar is werklik dringend grond nodig om aan die dorp se behuisingstekort te voorsien, maar dit moet sinvol gedoen word.”  

Volgens Van der Merwe het die raad hom “verstar in die aankoop van die Roodekuil-grond sonder om na enige ander stad- en streeksbeplanningsbeginsels te kyk. Dit is asof die raad geen saak gehad het met enige ander alternatief, invulling, voltooiing van Uitbreiding 25 of selfs die rehabilitasie van Zuma View nie.”

Van der Merwe het gesê die hele kopseer het begin met die ontwikkeling van Uitbreiding 25 (75 hektaar) bokant Spa Park, teen die berg wat in Maart 2011 deur Van Heerden aan die Polokwane-ontwikkelaar Steve Bosch verkoop is en hy (Bosch) het dit weer aan die behuisingsontwikkelings-agentskap (HDA) teen R64 miljoen verkoop.

“Die DA wil dit duidelik stel dat die aankoop van die Roodekuil-grond nie in belang van die dorp en sy inwoners is nie en dat die raad ernstige pogings moet aanwend om die Towoomba-grond gratis by die regering te kry.”

Van Heerden het by navraag aan Die Pos gesê die voorstelling wat die DA tydens die dorpsvergadering op Maandag, 23 Oktober, aan inwoners van Bela-Bela voorgehou het, was misleidend aangesien uitbreiding 10 en 12 (Van Heerden se Roodekuil-grond) doelbewus uitgelaat is.

Hy sê ook die grense van Uitbreiding 10 is verander en aan die vergadering as die waarheid voorgehou. “Dit is nie net onregmatig nie, maar ook onderduims,” het hy gesê.

Volgens Van Heerden is Uitbreiding 10 en 12 reeds vir dorpsontwikkeling goedgekeur en is 8 000 erwe daar beskikbaar, die beplanning is met die hulp van stadsbeplanners gedoen en dit is in belang van die dorp dat dié ontwikkeling so gou moontlik van die grond af kom om die behuisingsnood aan te spreek. Hy het verder benadruk dat informele nedersettings/plakkersgebiede na sy mening verder sal uitbrei solank die behuisingsnood nie met die nodige erns hanteer word nie.

Van Heerden het gesê sy ontwikkeling op Uitbreiding 10 en 12 kan die informele nedersettings wat kragtens ’n hofbevel verskuif moet word, asook ander, akkommodeer en dit sal help verhoed dat verdere uitbreidings aan die westekant van die dorp (op die Alma-pad) plaasvind. 

Van Heerden het gesê die probleem op die Alma-pad is “geskep deur politici en hul meelopers. Ek wou jare gelede ’n gedeelte van my grond (omtrent 13 ha wat aan die noordekant van Spa Park grens), wat telkemale onregmatig beset is, aan die munisipaliteit verkoop vir die vestiging van ’n formele laekostebehuisingsontwikkeling. Terselfdertyd wou ek ’n buffersone van 13 ha aangrensend aan die Alma-teerpad aan die noordekant, en wat strek tot duskant die dorp se reservoir, by die munisipaliteit koop. Dit sluit die gedeelte in wat onlangs onregmatig beset is. 

“Ek het toe weer eens vooruit gedink en besef hierdie grond hou risiko’s in — wat nou onlangs reg bewys is. Die politici — gerugsteun deur ’n paar meelopers — het my voorstel gekelder. Daardeur het hulle verhoed dat alternatiewe dorpsgebied beskikbaar gestel word en verseker dat agtergeblewenes en minderbevoorregtes wat reeds vir jare in haglike omstandighede moet woon, moet bly veg vir voortbestaan. Die resultaat was ’n al groter wordende informele nedersetting. 

“’n Telefoonoproep van Bosch aan my met ’n versoek dat hy grond soek om te koop vir die ontwikkeling van lae- en mediumkostebehuising op Bela-Bela, was dus soos manna uit die hemel vir my. Ek was dankbaar, maar het ongelukkig eers later uitgevind wat sy planne was.

“In kort: Wie het die probleem geskep? Die mense wat my goeie voorstel van die tafel help vee het en wat gelei het tot die Bosch-transaksie.”

Plakkers het intussen ook op Van Heerden se grond op Uitbreiding 26 in dieselfde omgewing begin plak. Van Heerden het vroeër aan Die Pos gesê dat hy nie die plakkers op sy grond met ’n hofbevel gaan beveg om hulle af te sit nie. Hy het gesê hy “gaan dit daar laat”.

“Dit word weer eens net my probleem gemaak,” het Van Heerden die afgelope week aan Die Pos gesê. “Nie die DA, munisipaliteit, polisie of AfriForum is bereid om my te help nie.”

“Meer as twee jaar ná dié uitreiking van ’n hofbevel om die plakkers in die omgewing te verskuif, is dit nog steeds nie gedoen nie omdat alternatiewe dorpsgebied waar dienste aan hulle gelewer kan word, steeds nie beskikbaar is nie weens die teenkanting deur sekere politici en hul meelopers teen die vestiging van my ontwikkeling op Roodekuil.”

Van Heerden het gesê: “Nóg ’n hofbevel sal derhalwe geen invloed hê nie.

“Die beskikbaarstelling van grond waar dorpsgebied reeds goedgekeur is, behoort die eerste stap te wees. Dit sal verseker dat die mense wat onregmatig grond beset, vinniger verskuif kan word en verdere besetting van grond verhoed.”

Wat betref die Towoomba-ontwikkeling het Van Heerden gesê politici verloor uit die oog dat beleggersvertroue geskaad kan word as laekostebehuising op dié grond, wat vir 3 km aan die hooftoegangsroete na Bela-Bela grens, ontwikkel word. 

Hy het voorts gesê dié grond is nog nie eens amptelik aan die Bela-Bela-munisipaliteit oorgedra nie, en dat die regering se ratte uiters stadig draai wat betref dorpstigting, sonering en ontwikkeling — wat jare kan neem.

“Indien dit wel plaasvind, beveel ons egter aan dat daar voorsiening gemaak word vir groter erwe langs die R516-provinsiale pad en die balans aangewend word vir mediumkostebehuising sodat ons nie sit met die probleem soos hierbo genoem nie.

Van Heerden het afgesluit deur te sê: “Solank daar gefokus word op die persoon pleks van die bal, sal daar nie oplossings vir hierdie probleem op Bela-Bela kom nie.”

 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       

 

NEEM ASSEBLIEF KENNIS:

Die Pos se kantore sluit op Vrydag, 15 Desember 2017 en heropen weer op Maandag, 8 Januarie 2018.

GESEËNDE KERSFEES EN VOORSPOED VIR 2018 WORD AL ONS LESERS TOEGEWENS.


Ander stories