HOOFSTORIES: •   Reën veroorsaak skade; dam nog leeg   •   Sakke dagga gevind   •   Jong leerder vergruis kakebeen ná val   •   Grond op Vaalwater onwettig betree   •   Kontrakteur sê hy is omkoopgeld gevra   •   Afriforum maak dorp skoon terwyl werkers staak   •   Inwoners keelvol vir dienslewering   •   Liggiehuis lok van heinde en ver   •   Munisipale skuld moet beter bestuur word   •   Disabled people also need a future   •   Brief: vat inwoners vas oor vullis   •   Eskom krag-krisis afgeweer   •   Twee renosters buite Vaalwater gestroop   •   Quick recovery after reports of stolen vehicle   •   Organisation to equip youth with skills
 

 
 

 

Skok ná speaker onverwags bedank


   17 November 2017   l   Ronél van Jaarsveld    l   Views: 849   l   31 days ago  

 

Johann Abrie, speaker van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit.


MODIMOLLE - Die nuus dat die speaker van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, Johann Abrie, uit dié pos bedank het, het vandeesweek skokgolwe deur die gemeenskap gestuur. 

’n Rede vir dié besluit is nie onmiddellik gegee nie. 

Die bom het tydens ’n raadsvergadering wat op Dinsdag, 14 November, gehou sou word gebars. Die vergadering kon egter nie voortgaan nie omdat ANC-raadslede buite die raadsaal bly sit en geweier het om in te gaan. Die raad het ’n kworum van 50% plus een nodig voordat hy besluite kan neem. Een van die EFF-raadslede was afwesig en die vergadering kon dus nie voortgaan nie. Die DA, EFF en VF+ werk dikwels saam en het dan 15 stemme teenoor die ANC se 13 stemme. 

ANC-raadslede Klaas Mabunda en Grace Mashitishu het aan Die Pos gesê hulle het geweier om die vergadering by te woon omdat die agenda deur  Abrie opgestel en onderteken is, maar die vergadering deur iemand anders gelei sou word. Dit is volgens hulle nie die korrekte prosedure nie en die agenda moet eers gewysig word. 

Hulle was ook ongelukkig oor die lae waarde van eiendomme wat glo deur die munisipaliteit verkoop sou word omdat dié geld kan help om die Eskom-rekening te delg. Hulle het gesê hulle is gekant teen van die voorgestelde kandidate vir bestuursposte wat lank reeds aangestel moes word. 

Dié belangrike poste vir bestuurders is reeds maande vakant. 

Die reaksie op sosiale media was hewig. Die verwikkelinge is deur inwoners beskryf as ’n “mushroom-strategie” en ’n “pot spaghetti”.  Een inwoner wou weet of Abrie vrywillig bedank het en of hy gevra is om te bedank. Nog iemand het gekla dat die publiek in die duister gehou word. Daar was ook ’n vraag of Abrie se kop deur die EFF geëis is. Ander was ontsteld omdat die Eskom-kwessie nie bespreek is nie en sakelui in die donker is oor wat gaan gebeur.

Abrie het teen druktyd aan Die Pos gesê: “Jacques Pauw het ’n hele boek geskryf oor die onderduimse toetrekkery wat daagliks van staatsamptenare en verkose leiers verwag word.  Ek sien nie meer kans om aan te hou wegkyk terwyl die munisipaliteit voor ons oë rot en kaal besteel word nie. Elke keer as ek lawaai maak en vrae vra, word ek gedreig met verwydering as speaker. Ek maak dit nou sommer maklik vir almal. Moet my nie meer dreig nie; ek loop sommer self. Ek sal aanbly as gewone raadslid en my stem vandaar af dik maak.” 

Abrie, wat as wyksraadslid vir wyk 11 op Modimolle verkies is, bly in dié hoedanigheid deel van die raad. Die raad sal binnekort ’n nuwe speaker verkies.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       

 

NEEM ASSEBLIEF KENNIS:

Die Pos se kantore sluit op Vrydag, 15 Desember 2017 en heropen weer op Maandag, 8 Januarie 2018.

GESEËNDE KERSFEES EN VOORSPOED VIR 2018 WORD AL ONS LESERS TOEGEWENS.


Ander stories