HOOFSTORIES: •   Skok ná speaker onverwags bedank   •   Diensverskaffer begaan flater met rekeninge   •   EFF plak nou op ander stuk grond   •   Eskom gaan nie krag sny   •   Ondersoek ná klagtes oor polisie   •   Bela-Bela-inwoners loop deur onder otm-boewe   •   GPF ontbind ná klagte teen hoof   •   'Doom-profeet' se verhoor begin   •   Vrou sterf op R101-pad   •   Poging tot plaasaanval glo vals alarm   •   Dorp moontlik sonder krag   •   Jagters vereer   •   Hoërskool Warmbad-leerders presteer   •   Atlete sweet tydens gewilde marathon
 

 
 

 

Talle dood in verskeie ongelukke op snelweg


   10 November 2017   l   Ronél van Jaarsveld    l   Views: 104   l   13 days ago  

 

Agt mense is op Vrydag, 3 November, in ’n noodlottige ongeluk op die N1 Suid dood.


’n Gru-botsing op die N1-suid-snelweg tussen Modimolle en Mookgophong was verlede week verantwoordelik vir die dood van agt mense en het vir ure lange verkeersopeenhopings gesorg. 

Die botsing het op Vrydagmiddag, 3 November, tussen drie voertuie en ’n vragmotor gebeur. Volgens die verkeersdepartement het die bestuurder van ’n Mazda-sedan beheer oor sy voertuig verloor en met ’n Toyota-dubbelkajuitbakkie gebots.

’n Scania-vragmotor en Volkswagen Polo was ook in die ongeluk betrokke. Vyf mans en drie vroue, waaronder ’n kind, is in die ongeluk oorlede. 

Volgens lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, is die vyf mense in die dubbelkajuitbakkie oorlede. 

Die verkeer is deur Mookgophong en Modimolle herlei. Teen druktyd was die name van die oorledenes nog nie bekend nie. 

Nog ’n ongeluk op Maandag, 7 November, net ná 11:40, het ook lewens geëis. ’n Bestuurder het naby die Kranskop-tolhek beheer oor sy voertuig verloor nadat hy ’n ander motor verbygesteek het. ’n Jong seun van tussen 10 en 12 jaar oud is oorlede en vier ander mense is ernstig beseer. Hulle is, volgens verkeersverslae, in die F.H. Odendaal-hospitaal op Modimolle opgeneem. 

Die bestuurder van ’n Volkswagen Polo het op Sondag, 29 Oktober, ook vermoedelik beheer oor sy voertuig verloor nadat ’n band gebars en die voertuig teen ’n aankomende Mercedes Benz-mini-bus gebots het. Dit het teen ongeveer 16:10 naby die Nylrivier in die Waterbergdistrik gebeur. ’n Man (27) en ’n 24-jarige vrou is in dié ongeluk oorlede.

Dié deel van die N1 in Limpopo is berug vir sy gereelde noodlottige ongelukke en padtekens waarsku motorryers dat groot dele hoë ongeluksones is. 

Die Pos het in Oktober berig oor lt.kol. Johan Bezuidenhout en sy gesin wat ook in ’n ongeluk tussen die twee dorpe was. Hulle is slegs beseer in die ongeluk, maar een van die ander voertuie se bestuurders is dood. 

Talle inwoners blameer hoë spoed en die feit dat daar slegs strepe geverf is pleks van ’n middelman vir die hoë ongeluksyfer. Dié pad dra groot hoeveelhede verkeer. 

Twaalf mense is ook ’n dag tevore op Donderdag, 2 November, op die N1 buite Polokwane dood toe ’n minibus ’n donkie en daarna ’n vragmotor getref het. 

  • Twee mans het die afgelope naweek in afsonderlike voorvalle gesterf nadat hulle die R101 net buite Mookgophong wou oorsteek en voor motors beland het. Volgens ao. Barend van Wyk van die polisie op Mookgophong het die mans waarskynlik nie gekyk voordat hul die pad oorgesteek het nie. Die mans se name kon teen druktyd nie bekendgemaak word nie aangesien hul families hulle nog moes uitken.

 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories