HOOFSTORIES: •   Man in hof ná mesaanval   •   Huismoeder van kinderhuis in hof ná vuishou   •   Nuwe speaker en hoofsweep gekies   •   Massapatrollie verhoog sigbare polisiëring   •   Sirens blaring during police chase   •   Nuwe baadjie vir GPF   •   Inwoner sterf in vliegongeluk   •   Mookgophong in duister gelaat   •   Wees versigtig vir dodelike 'zombiedwelm'   •   Verdagtes verdwyn met vuurwapens   •   N-nommerplate nou onwettig op SA-paaie   •   Brief: Mugabe se bedanking welkom   •   Biblioteek kry groot skenking   •   Klein Hansies bedank vir prestasies
 

 
 

 

Munisipale raad bespreek Eskom-dilemma


   20 October 2017   l   Ronél van Jaarsveld    l   Views: 157   l   35 days ago  

 


’n Groot Eskom-bom het verlede week gebars toe die kragverskaffer aangekondig het die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se krag sal vanaf Woensdag, 6 Desember, etlike uur elke dag gesny word weens miljoene rande se agterstallige skuld. 

Dié donker wolk hang reeds geruime tyd oor die munisipaliteit se kop met ’n sperdatum dat R13,8 miljoen teen Maandag, 2 Oktober, betaal moes word. Dié sperdatum is nie gehaal nie, ondanks gereelde kleiner betalings wat gemaak is. Die munisipaliteit skuld Eskom steeds meer as R230 miljoen. 

Die raad is op Dinsdag, 17 Oktober, byeen-geroep vir ’n spesiale raadsvergadering om dié dringende kwessie te bespreek. 

Raadslede het indringende vrae aan die munisipale bestuurder gevra sodat oplos-sings gesoek kan word. 

Die raadslede het hul politieke verskille tydens dié vergadering opsy gesit en op die dreigende krisis gekonsentreer. 

OP Sebola, munisipale bestuurder, het in antwoord op vrae gesê Eskom beskou munisipaliteite wat meer as R100 miljoen skuld as swak betalers. Vóór die samesmelting tussen Mookgophong en Modimolle, het Mookgophong bykans R90 miljoen geskuld en Modimolle R90 miljoen — die nuwe munisipaliteit se skuld was dus aansienlik meer as R100 miljoen. 

Hy het gesê die munisipaliteit het in Julie R47 miljoen aan Eskom betaal, R6 miljoen in Augustus, R8 miljoen in September en R7 miljoen in Oktober. Dié geld dek nog nie September se rekening nie. 

VF Plus-raadslid Thinus Botha wou weet hoekom is kritiese poste soos dié van ’n ingenieur en ’n hoof- finansiële beampte steeds nie gevul nie, want hulle kon dié probleme help vermy het. 

Hy het gesê hy het vanjaar nog nie ’n rekening van die munisipaliteit ontvang nie, glo omdat die drukkers nie betaal is nie. 

DA-raadslid Hercules Louw het gesê ou infrastruktuur veroorsaak verliese van tot 40% van die elektrisiteit. 

Hy wou ook weet hoe die raad die verkoop van munisipale grond aan ondernemings kan bespoedig sodat dié geld kan help om skuld af te betaal. 

ANC-raadslid Rufus Mahoro het gevra dat alle voorafbetaalde kragmeters geoudit moet word en daar verseker word dat inwoners hul agterstallige rekeninge vereffen het voordat hulle kan oorskakel. Straatligte wat gedurende die dag brand het hom ook bekommer. 

DA-raadslid Sarna Groenewald het gevra vir ’n oorsig van inkomstes en uitgawes. “Ons betaal meer as wat ons tariewe aan inwoners is — selfs al betaal almal, sal ons nog steeds nie ons verpligtinge kan nakom nie,” het sy gesê. 

Sy wou weet wat is die waarde van die debiteureboek en die bateregister. Sy het gesê daar bestaan nie ’n bateregister vir Mookgophong nie. 

ANC-raadslid Klaas Mabunda het gevra dat daar weer gekyk word na die voorafbetaalde kragmeters wat deur die maatskappy Cigicell geïnstalleer word en die koste wat daarmee gepaardgaan. 

Hy sê ook inwoners kla dat hulle nie elektri-siteit kry vir die volle bedrag wat hulle op voorafbetaalde meters betaal nie. 

Sebola het onder meer gesê swak infra-struktuur veroorsaak groot verliese maar daar is geld nodig om dit op te gradeer. Onwettige elektrisiteitaansluitings is ’n probleem wat deur die maatskappy Cigicell ondersoek word.  

Hy was nie bewus daarvan dat rekeninge nie uitgestuur is nie. ’n Diensverskaffer is volgens hom besig om boomtakke rondom al die elektriese lyne in die dorp oop te sny om kragverliese te voorkom. 

Oor bestuurdersposte wat nie gevul is nie, het Sebola gesê die onderhoude is reeds gedoen en kandidate is op ’n kortlys geplaas. Hulle wag steeds vir terugvoer van die LUR. 

Hy het gesê die munisipaliteit vorder maandeliks R23 miljoen in, maar bestee sowat R17 miljoen aan salarisse en derde partye, R15 miljoen tot R20 miljoen aan Eskom, R1,2 miljoen aan Magalies Water en R1 miljoen elk aan sekuriteit, Telkom en kleiner krediteure. Dié bedrag kom op meer as R36 miljoen te staan. 

Hy het gesê die munisipaliteit kan nie sy finansiële verpligtinge nakom nie en dat munisipale tariewe in Februarie in die aanpassingsbegroting hersien moet word. 

Sebola het gesê die waarde van die debiteureboek is sowat R292 miljoen en dat dit aan ’n buiteparty verkoop kan word om in te vorder. 

Hy het gesê die jaarlikse finansiële state sal tydens die volgende raadsvergadering voor die raad dien. 

Raadslede was tydens ’n bespreking oor staatsdepartemente wat geld skuld, dit eens dat hul krag so gou moontlik afgesny moet word. “Ons het reeds herhaaldelik met hulle hieroor gepraat,” het Sebola gesê. Daar is besluit om hul krag so gou wetlik moontlik te sny. Daar is ook besluit dat agterstallige huishoudings en ondernemings se krag maandeliks afgesny gaan word. 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories