HOOFSTORIES: •   Eskom gee uitstel vir terugbetaling van skuld   •   Polisie steeds op moordenaars se spoor   •   Plaasaanvalle nie altyd rasgedrewe   •   Swerm bye dood talle diere op plaas   •   Groot klopjag 'n sukses   •   Mookgophong-projekte vorder goed   •   Sielkundiges in hegtenis geneem   •   GPF versterk polisie se hand   •   Vyf jaar vir moord op baba   •   'Onwettige immigrant' vasgetrek   •   'Mercy' for Zimbabweans   •   Brief: Hoekom is radio so stil oor plaasaanval?   •   Hoofartikel: Gooi kole!   •   ERFENISDAG - viering van reënboognasie   •   Kleuterskool blaas 40 kersies dood   •   Rugbyklub vereer spelers
 

 
 

 

Stinkende water lek steeds in Klein Nylrivier


   14 July 2017   l   Ronél van Jaarsveld    l   Views: 396   l   2 months ago  

 

’n Hamerkop patrolleer die poele stink, bloederige water wat uit ’n drein langs die nywerheidsgebied vloei. 


Stinkende, bloederige water stroom weer langs die Waterberg-distriksmunisipaliteit se abattoir verby, tot groot frustrasie van omliggende sake-eienaars. 

Die abattoir is in die nywerheidsgebied op Modimolle geleë.

Dié probleem kom al etlike jare, sonder dat ’n oplossing daarvoor gevind word. Diegene wat bekommerd is oor die impak van die bloederige water op die natuur, sê dat ’n stroompie slegs enkele meter van die lekkende water langs die treinspoor verbyloop en die water alles verder af in die Klein Nylrivier beland wat op pad is na die sensitiewe Nylsvley-bewaringsgebied. Skaars 100 m verder in die veld stroom water by ’n drein uit — weer eens digby die rivier. Dit dam op en ’n hamerkop en ibisse loop en soek kos daarin. Die stank hang dik in die lug. 

Tydens Die Pos se besoek aan die lekkasie op Donderdag, 29 Junie, was ’n span munisipale werkers besig om die verstopping te probeer verwyder. Hulle het glo binne twee uur nadat hulle die klagte ontvang het, begin werk. Die probleem is egter nie opgelos nie en tydens ’n besoek ’n week later, was die probleem steeds daar. 

Die Pos het die Waterberg-distriksmunisipaliteit herhaaldelik genader vir kommentaar, maar niks ontvang nie. Die water kom egter nie net vanuit die drein langs die abattoir nie, maar lê ook hoër in die pad op. ’n Munisipale werker het verduidelik dat dit dieselfde pyplyn is wat telkens probleme gee. 

Marlene van Staden, die burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het gesê dat die besoedeling vir haar onaanvaarbaar is en dat die probleem so gou moontlik opgelos moet word. “Ons het al herhaaldelik gevra dat die abattoir hul pype korrek aan ons rioolstelsel koppel. Dit is deel van die oorsaak van die probleem,” het sy aan Die Pos gesê.

Thabang Selamela, die afdelingshoof van waterdienste by die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het ná navrae van die Die Pos, die lekkasie besoek. “Ek het self gaan kyk. Die lek langs die abattoir is ’n munisipale lyn en nie afkomstig van die abattoir af nie. Die lekkasie verder af in die veld is wel van hulle afkomstig. By die eerste lekkasie is ’n groot elektriese kabel — ons moet daarom eers die grond laat droog word en dan sowat 2 m diep grawe om die probleem op te los,” het hy gesê. Hy het bygevoeg dat die nuwe munisipale bywette, waarop inwoners tans kommentaar kan lewer, die munisipaliteit die mag sal gee om die kwaliteit van die water wat in hul rioolstelsels ingepomp word, beter te beheer en beperkings af te dwing. 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       



Ander stories