HOOFSTORIES: •   Gru-ongeluk eis twee lewens   •   Foreign nationals targeted   •   Dak van vulstasie windskeef ná trok stamp   •   Geen skoon oudit vir Limpopo-munisipaliteite   •   Nuwe selfoon-slenter   •   Narcotics anonymous wants to expand   •   SAPD-klopjag suksesvol   •   Human trafficking a 'multi-million industry'   •   Brief: Wat is die WARE waterprobleem?   •   Dansers wys hul staal   •   Vuurwarm skolerugby   •   Gholftoernooi in volle swang   •   Coetzee's keep cycling titles in family
 

 
 

 

Waterbergers maak hul harte oop vir Knysna


   15 June 2017   l   Die Pos-span/The Post team    l   Views: 139   l   14 days ago  

 

Antoinette Wagener, Erika Strauss en Johannes Mokoena wat die verwerking en verpakking van die noodprojek op Mookgophong behartig het.


Inwoners van die Waterberg se gee-hand was die afgelope week wawyd oop.

Skenkings vir Knysna-inwoners wat deur verwoestende brande lamgelê is, het die week ingestroom.

Sarna Groenewald, ’n raadslid op Modimolle, het inwoners versoek om skenkings te maak om diegene wat niks oorgehou het ná die brande nie, te help. “Die DA in LIM368 het op die hart gedruk gevoel dat ons moet hulp verskaf aan mense in die brandgeteisterde gebiede,” het sy gesê.

Volgens berigte is sewe mense al teen druktyd dood in die brande en honderde eiendomme vernietig of beskadig. Daar is na raming meer as 10 000 mense wat inderhaas uit hul wonings verskuif moes word. “Dit is ongelooflik; die hulp hou net aan instroom,” het Groenewald Maandagmiddag, 12 Junie, gesê. Die Total-vulstasie in Kerkstraat het hul stoorkamer beskikbaar gestel omdat hulle 24 uur oop is en enige tyd van die dag of nag skenkings kon ontvang. Die stoorkamer was Maandag tot oorlopens toe vol. “Selfs mense wat voorheen op Modimolle gewoon het maar nou stad toe verhuis het, het goedere met ’n geleentheid hiernatoe gestuur,” het sy gesê.

Inwoners het sakke met huisraad, klere en kos, babagoed, komberse en hondekos geskenk.

Die vervoermaatskappy DHL Express het ingespring en hul vervoernetwerk beskikbaar gestel om landwye skenkings in Knysna af te lewer. Van Dinsdag af versoek Groenewald dat skenkings by die Postnet op Modimolle afgelewer word, vanwaar DHL Express dit sal vervoer. Skenkings kan tot Vrydagmiddag gemaak word.

Vir meer inligting, bel vir Groenewald by tel. 079 074 3614.

Bela-Bela-inwoners, organisasies, kerke en ondernemings op die dorp het ook ingespring en skenkings bymekaar gemaak. Peet se padstal buite die dorp, waar mense die skenkings kon aflaai, is teen Maandag oorval met skenkings.

’n Groot hoeveelheid klere en kos is afgelaai en daar is glo nóg op pad, het Peet Pretorius van Peet se Padstal gesê.

Mense wat nog skenkings wil stuur, word gevra om dit voortaan by die Hervormde Kerk se kerksaal in Ludorfstraat, verkieslik in stewige bokse, af te laai.

Daar is gereël dat trokke die vrag met skenkings na Knysna sal neem, het Hettie Pretorius, ook van Peet se Padstal, gesê.

Courier Guy op Bela-Bela het ook hul dienste aangebied en sal skenkings wat by dié tak in die Bosveld Mall afgelaai word, gratis tot in Johannesburg vervoer waar dit saam met die Gift of the Givers-vragmotors na Knysna vervoer sal word.

Ook die inwoners van Mookgophong het hulle harte, hande, beursies en huise oopgemaak.

Erika Strauss en Antoinette Wagener het met die hulp van Buks Bovil en Johannes Mokoena, ’n projek geloods om enige gebruiksware en kos in te samel.

Inwoners het op ’n oproep gereageer wat Strauss op die kwekery se Facebook-blad geplaas het. Hulle is daarna oorval met skenkings. Die Wit Jasmyn-kwekery is ingerig om die skenkings te ontvang en die twee vroue het die reusetaak aangepak en alles verpak. Die verpakkingsmateriaal is deur ’n plastiekfabriek geskenk en die inwoners het van komberse tot kruideniersware aangedra.

“Daar is te veel mense om te bedank,” het Strauss gesê.

AfriForum, wat heeltyd met die vroue in gesprek was, het ook hulle bystand verleen en hul vragmotor het op Woensdag, 14 Junie, die vrag bestem vir Knysna, gelaai.

“Die reaksie was oorweldigend nadat ons die versoek om hulp op die dorp se groepe geplaas het. Mookgophong se mense het harte van goud,” het Wagener gesê. Sy het ook gesê die goedere wat ontvang is, is van goeie gehalte en spreek van die ge-sindheid van die mense.

“Ons is so dankbaar dat ons ook ’n beskeie bydrae kon lewer om die toestand in Knysna te probeer verlig. Dit moet vreeslik wees om letterlik al jou aardse besittings te verloor,” het ’n anonieme skenker aan Die Pos gesê.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       



Ander stories