HOOFSTORIES: •   Woede kook oor grondgryp   •   Kommer oor krokodille in swemdam   •   Vaalwater-vrou sterf aan malaria   •   Raad bespreek krag-dilemma   •   'Buffelbedrieër' verdwyn   •   Grondbesetting: 'Ons sal dit nie duld nie!'   •   Veiligheidswag dra vuurwapen sonder permit   •   Brief: inwoners ry self vullis weg   •   Stadig met water op Modimolle   •   Só lyk verdagtes van wrede plaasaanval   •   DA-raadslid beseer tydens staking   •   Brandverbod opgehef   •   Jong entrepreneur maak Vaalwater soet   •   Mountain bikers go for gold   •   Nylie-krieket kraai koning
 

 
 

 

Werkers dring op beter werktoestande aan


   15 June 2017   l   Andries van der Heyde    l   Views: 424   l   4 months ago  

 

Lede van die Suid-Afrikaanse munisipale werkersunie (Samwu) en talle werkers van die Bela-Bela-munisipaliteit het op Donderdag, 8 Junie, met eise na die munisipaliteit gestap. Die werkers voel hul werksomstandighede en veiligheid moet verbeter. Die betogers het verkeer in Chris Haniweg tydelik vertraag.


Lede van die Suid-Afrikaanse munisipale werkersunie (Samwu) en talle munisipale werkers van onder meer parke, die elektriese-afdeling, begraafplaasdienste, en water en sanitasie, het op Donderdag, 8 Junie, ’n optog na die Bela-Bela-munisipaliteit gehou om ’n memorandum met eise te oorhandig.

Elliot Molala, streeksvoorsitter van Samwu, het aan Die Pos gesê die werkers word deur die munisipaliteit afgeskeep wat betref werksomstandighede, toerusting, opleiding en veiligheid. Hulle is ook vies omdat munisipale kontrakte glo aan buitekontrakteurs gegee word.

Die betogers het verkeer by die kruising van Richie- en Chris Haniweg kortliks tot stilstand gedwing voordat hulle na die munisipale gebou beweeg het.

Volgens die polisie was dit ’n wettige optog. Verteenwoordigers van die munisipaliteit het egter glad nie Donderdag opgedaag om die memorandum te ontvang nie. Dit het die betogers ontstel, maar hulle is vreedsaam uitmekaar.

Hulle het op Maandag, 12 Junie, weer teruggekeer en die burgemeester, Jeremia Ngobeni, het vroeg die oggend opgedaag om hulle te woord te staan.

Luidens die memorandum, waarvan Die Pos ’n afskrif het, dring Samwu daarop aan dat alle vakante poste wat geadverteer is, gevul word. Ook dat poste by die rioolwerke voorkeur moet geniet, dat die munisipale vloot aan die nodige veiligheidstandaarde moet voldoen en dat alle buitekontrakteurs se dienste gestaak word.

Verder het Samwu gevra dat toerusting en veiligheidsklere verskaf moet word. Indien die munisipaliteit dit nie verskaf nie, sal die unie die werkers aanraai om te staak aangesien die werkers se veiligheid dan in gedrang is.

Daar word voorts beweer dat werkers op grond van hulle politieke affiliasie geviktimiseer word en sulke praktyke moet summier gestaak word. “Bestuurders moet ophou om die werkers sleg te behandel,” het die memorandum gelui.

Samwu het tydens ’n Imbizo daarop aangedring dat werkers die geleentheid gegun word om openlik met die munisipale bestuur te praat — veral met die klem op verdere opleiding.

Die munisipaliteit is sewe dae gegun om op die memorandum te reageer. Ngobeni het die memorandum onderteken.

Ngobeni het by navraag gesê al die munisipale poste is tans gevul en ’n nuwe vloot, wat aan al die standaarde voldoen, is reeds afgelewer.

Hy het ook gesê die nodige toerusting en klere sal met die aanbreek van die nuwe finansiële jaar op 1 Julie beskikbaar gestel word.

Hy het verder gemaan werkers moet

“versigtig wees om by politieke aangeleenthede betrokke te raak wat hul persoonlike omstandighede kan verander”.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       



Ander stories