HOOFSTORIES: •   Gru-ongeluk eis twee lewens   •   Foreign nationals targeted   •   Dak van vulstasie windskeef ná trok stamp   •   Geen skoon oudit vir Limpopo-munisipaliteite   •   Nuwe selfoon-slenter   •   Narcotics anonymous wants to expand   •   SAPD-klopjag suksesvol   •   Human trafficking a 'multi-million industry'   •   Brief: Wat is die WARE waterprobleem?   •   Dansers wys hul staal   •   Vuurwarm skolerugby   •   Gholftoernooi in volle swang   •   Coetzee's keep cycling titles in family
 

 
 

 

Vadersdag se dieper betekenis


   15 June 2017   l   Die Pos-span/The Post team    l   Views: 80   l   14 days ago  

 

Dié Sondag, (18 Junie) is dit tyd om die pa’s te bederf. Foto: Google Images


Vadersdag word dikwels as ’n blote geldmaakfoefie gesien.

Krap ’n mens egter effe dieper om uit te vind hoe die dag ontstaan het, ontdek ’n mens die aangrypende verhaal van Sonora Louise Smart Dodd van Spokane, Washington, se stryd om ’n dag uit te sonder om vaders regoor die wêreld te eer en te bedank vir die rol wat hulle in die samelewing speel. Sonora word nie om dowe neute as die breinkind van die moderne Vadersdag-vieringe beskou nie.

Die dieper simboliek rondom Vadersdag gaan nog verder terug in die geskiedenis as Sonora se verhaal. Historici reken daar was reeds duisende jare gelede ’n tradisie om Vadersdag te vier. Volgens studies het ’n seun met die naam Elmesu 4 000 jaar gelde in Babilon ’n Vadersdag-boodskap vir sy pa op klip uitgekap. In dié boodskap wens Elmesu sy pa ’n lang en gesonde lewe toe.

Historici het geen kennis oor die agtergrond van Elmesu en sy pa se verhaal nie, maar glo dat daar wel ’n tradisie onder verskeie bevolkingsgroepe bestaan het om op een of ander wyse eer aan die rol wat vaders in die antieke wêreld gespeel het, te bring.

Sonora se verhaal speel egter veel later in die geskiedenis af as dié van Elmesu. Die gedagte van ’n “spesiale” dag vir vaders het by Sonora ontstaan tydens ’n kerkdiens op Moedersdag in 1909.

Sonora, wat op daardie stadium 27 was, het tydens die diens diep onder die indruk van haar pa se ongelooflike rol in sy gesin se lewe gekom. Sonora was 16 jaar oud toe haar ma tydens kindergeboorte gestref het.

William Jackson Smart, ’n oorlogsveteraan uit die Amerikaanse Burgeroorlog, het besluit om sy ses kinders — insluitende die pasgebore baba — man-alleen groot te maak. Dit was dus vir Sonora vreemd dat daar ’n dag aan moeders gewy word, maar dat pa’s wat hul sout werd is, geen spesiale erkenning geniet nie.

Sonora het weggespring en ’n veldtog begin om, net soos Moedersdag, ook ’n spesiale dag aan vaders te wy. Tydens haar veldtog het sy ten nouste met die Young Men’s Christian Association

(YMCA) en die Spokane Ministerial Association saamgewerk. Hulle harde werk het vrugte afgewerp en op 19 Junie 1910 is die eerste Vadersdag van die moderne eeu in Spokona gevier.

Sonora wou graag die dag op 5 Junie, haar pa se verjaarsdag vier, maar die uurglas het vir die organiseerders uitgeloop en die datum moes na Sondag, 19 Junie, verskuif word.

Sonora se droom het vinnig die res van Amerika se droom geword en in 1916 het pres. Woodrow Wilson Vadersdag-vieringe in Amerika erken. Dit was egter eers dekades later dat pres. Lyndon Johnson ’n  presidensiële proklamasie geteken het dat die derde Sondag in Junie amptelik as Vadersdag bekend sal staan.

Sedertdien het kapitalistiese wolwe die sentiment rondom Vadersdag behoorlik uitgebuit, maar daar is geen rede waarom die postmoderne gesin nie weer kan terugkeer na die eenvoudige geskenk wat Elmesu 4 000 jaar gelede aan sy pa gegee het nie: ’n boodskap op ’n klip uitgekerf.

Trek die kleurkryte en papier hierdie Vadersdag nader en laat die kinders toe om vir Pa te vertel hoe hulle hom waardeer.

Al maak die meeste pa’s nie soos William Jackson Smart kinders alleen groot nie, is die uitdagings vir pa’s om deesdae die broodwinner te wees, enorm — en daarvoor verdien hardwerkende pa’s erkenning en ’n groot bederf. Bron.

www.fathersdaycelebration.com

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       



Ander stories