HOOFSTORIES: •   Woede kook oor grondgryp   •   Kommer oor krokodille in swemdam   •   Vaalwater-vrou sterf aan malaria   •   Raad bespreek krag-dilemma   •   'Buffelbedrieër' verdwyn   •   Grondbesetting: 'Ons sal dit nie duld nie!'   •   Veiligheidswag dra vuurwapen sonder permit   •   Brief: inwoners ry self vullis weg   •   Stadig met water op Modimolle   •   Só lyk verdagtes van wrede plaasaanval   •   DA-raadslid beseer tydens staking   •   Brandverbod opgehef   •   Jong entrepreneur maak Vaalwater soet   •   Mountain bikers go for gold   •   Nylie-krieket kraai koning
 

 
 

 

Inhoud van KPMG-verslag ná maande bekend


   21 April 2017   l   Andries van der Heyde    l   Views: 533   l   6 months ago  

 


Die Bela-Bela-munisipaliteit het op Dinsdag, 11 April, die langverwagte KPMG-forensieseverslag bekendgemaak waarin be-weerde bedrog in die munisipaliteit onder-soek is.

Die forensiese ondersoek is aan die begin van 2016 gedoen met die doel om klagtes van beweerde ongerymdhede wat glo tussen Januarie 2013 en Mei 2016 by die munisipaliteit voorgekom het, te ondersoek. 

Uit die verslag, waarvan Die Pos ’n afskrif het, blyk dit dat die dorp se vorige burgemeester, Lucas Nhlapo, vir Morris Maluleka, huidige munisipale bestuurder, blameer het vir die manier waarop sekere van die munisipale kontrakte gehanteer is. 

Die KPMG-verslag, wat reeds in Mei 2016 aan die munisipaliteit beskikbaar gestel is, wys wel dat sekere ongerymdhede by die munisipaliteit plaasgevind het.

Van die bevindinge sluit die volgende in:

Fawcett security-kontrak:

Maluleka het dié veiligheidskontrak in 2016 gekanselleer nadat die veiligheidsmaatskappy glo nie hul pligte nagekom het nie. Die kontrak sou eers vanjaar geëindig het.

Die munisipaliteit was luidens die verslag ontsteld nadat lede van die Suid-Afrikaanse munisipale werkersunie (SAMWU) die munisipale gebou in Maart 2014 binnegedring het en ook omdat 10 voertuigbatterye in Desember 2013 by die departement van openbare werke se perseel en by die suiweringswerke op die dorp gesteel is. Fawcett het al dié persele bewaak.  

Dié kontrak is daarom in Januarie 2016 beëindig en die saak het in die hooggeregshof gedraai.

Volgens KPMG se bevindinge het Maluleka in die belang van die munisipaliteit opgetree deur die kontrak te kanselleer en die korrekte prosedures is gevolg. Die saak is steeds nie afgehandel nie. 

Die munisipale vlootbestuurkontrak:

Dikala Plant Hire is in Julie 2014 aangestel met die doel om ’n nuwe munisipale vloot te voorsien op ’n allesomvattende instandhoudingsplan wat vir drie jaar geldig was. 

Daar is aanvanklik begroot vir 40 voertuie, maar die munisipaliteit het 50 benodig. Die totale koste van dié kontrak het R36 550 998 beloop. 

’n Vennootskap is tussen Balimi Barui Trading (BBT), Dikala Plant Hire en die munisipaliteit aangegaan om die vloot se sake te bestuur. 

Die munisipaliteit het in Desember 2014 nog voertuie aangevra, maar was op daardie stadium geldelik in die knyp. Dikala Plant Hire is egter meegedeel dat die munisipaliteit nie hul finansiële verpligtinge kan nakom nie. 

Kostebesparingsmaatreëls is ingestel om die vloot teen ’n laer koste met ouer model voertuie te vervang. 

Luidens die verslag het BBT aanvanklik ingestem tot hierdie verlaging, maar Dikala Plant Hire se verteenwoordigers het verskil. Dit het tot ’n dispuut tussen die partye gelei en die munisipaliteit het die kontrak gekanselleer.

Maluleka het tydens sy onderhoud met die KPMG-verteenwoordigers gesê hy het die kontrak met die nodige regsadvies gekanselleer. Dikala Plant Hire het die munisipaliteit egter hooggeregshof toe gesleep. (Die munisipaliteit het intussen dié hofsaak verloor en alle uitstaande skuld plus rente moes aan Dikala Plant Hire betaal word.)

Betalings in ’n privaat bankrekening:

Die vlootbestuurkontrak met Absa-bank het luidens die verslag tussen Februarie en Maart 2015 geëindig en Dikala Plant Hire het ingestem om van die munisipaliteit se voertuie te vervang.

Luidens die verslag het die vennootskap tussen BBT, Dikala Plant Hire en die munisipaliteit op daardie stadium steeds bestaan.

Betalings vir die voertuie moes in ’n Nedbank-rekening betaal word, maar Hendrick Kganyago, direkteur van BBT, het die munisipaliteit glo gevra om die geld in ’n ander bankrekening, ’n Absa-rekening, te betaal. 

Die munisipaliteit het glo ’n betaling van R366 298 goedgekeur en in hierdie rekening inbetaal. Dit het later aan die lig gekom dat dit ’n persoonlike rekening van Kganyago was en dat hy namens Dikala Plant Hire probeer optree het, het KPMG vasgestel. KPMG het ook bevind dat die rekening nie aan Dikala Plant Hire behoort het nie.

Luidens die verslag is ’n interne ondersoek geloods nadat Ben Poto, Dikala Plant Hire se bestuurder, vrae begin vra het. 

Die munisipaliteit het verdere betalings gestaak. 

KPMG het vasgestel dat geen besluit tussen die partye bestaan het om ’n bykomende rekening te gebruik nie. KPMG het die aanbeveling gemaak dat kriminele klagtes in verband met dié saak gelê word.

Die munisipale toegangsbeheerstelselkontrak:

Die maatskappy Bertrobite is in April 2015 aangestel om toegangsbeheerstelsels by die munisipaliteit te installeer. R921 000 is aanvanklik vir hierdie stelsel begroot en die kontrak sou in 2018 geëindig het.

Luidens die verslag is die kontrak aangepas nadat die munisipaliteit meer van dié toestelle aangevra het. 

Die KPMG-ondersoek het bevind dat dié kontrak eintlik meer as R9 miljoen beloop het en dat die dorp se begroting in 2016 aangepas is om R4,5 miljoen meer vir dié kontrak beskikbaar te stel. KPMG het bevind dat R3 083 433 tussen Julie 2015 en Februarie 2016 aan Betrobite betaal is.

KPMG het voorts bevind dat die munisipaliteit sy eie bestuursbeleid oortree het deur die openbare deelnamevergadering eers nadat die kontrak gesluit is, te hou. Betalings is ook goedgekeur vóór die korrekte prosesse afgehandel is.

KPMG het aanbeveel dat stappe teen Maluleka en die waarnemende hooffinansiële-beampte, Khathu Maposa, gedoen moet word wat betref die hantering van dié kontrak. Stappe in dié verband is reeds gedoen.

Verkeersbestuurskontrak:

BBT is in Oktober 2014 aangestel om verkeersbestuurstelsels, boete-invorderingstelsels en spoedkameras aan die munisipaliteit te voorsien.

Die munisipaliteit was teen September 2015 bekommerd oor die aanstelling van die diensverskaffer, aangesien daar teen Oktober van daardie jaar geen teken of sprake was van ’n spoedkamera nie en min fondse is met boetes ingevorder.

Die munisipaliteit het in die 2014/2015- en 2015/2016-boekjaar R12 289 000 vir hierdie kontrak begroot, maar het slegs 3% van die begrote bedrag uit die kontrak ingevorder, het KPMG bevind.

Teen Desember is R1 782 961 aan BBT betaal en die munisipaliteit het slegs R320 405 oor hierdie tydperk uit verkeersboetes ingevorder. 

KPMG het ook bevind dat BBT die munisipaliteit R115,14 per boete wat uitgereik is gevra het en altesame 11 115 boetes — waarvan slegs 1280 deur verkeersoortreders betaal is — is oor hierdie tydperk uitgereik.

KPMG het vasgestel dat geen onreëlmatige betalings aan BBT oor hierdie tydperk gemaak is nie, maar het aanbeveel dat stappe teen die lede van die munisipale tenderkomitees gedoen moet word aan-gesien geen deeglike koste-vergelykings van die ander diensverskaffers wat vir die kontrak getender het in ag geneem is nie. 

Stappe moet ook gedoen word teen die munisipaliteit se destydse hoof van voorraadkettingbestuur, Ludwick Motualana, Lionel Mashishi, korporatiewe bestuurder, asook TJ Mothapo van die departement van gemeenskaplike ontwikkeling omdat hulle glo nie toegesien het dat die kostes in terme van die kontrak en wat die tenderkomitee uiteengesit het, met mekaar ooreengestem het nie.

Daar is ook bevind dat stappe teen Maluleka gedoen word aangesien hy nie seker gemaak het dat dié kontrak se inhoud akkuraat was alvorens hy die kontrak goedgekeur het nie.

 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       



Ander stories