HOOFSTORIES: •   Dorp maak harte oop vir gesin   •   Advertensieborde-sage kry nie einde   •   Community demands clean water   •   Three dead in major accident   •   Girlfriend allegedly killed by ex-lover   •   Mayor reaches out   •   Streetlight globes found in private home   •   Lyndansers samel blikkieskos in vir ouetehuis   •   Nuwe landbouwetgewing 'n bedreiging   •   Commitment and dedication pays off   •   Hansie bring brons na SA-kampioenskap   •   Kolskote vir beste skuts
 

 
 

 

Naboom Fiësta vermaak oud en jonk


   21 April 2017   l   Marietjie Steenkamp    l   Views: 38   l   7 days ago  

 

’n Groot groep feesgangers het die Naboom Fiësta, wat deur die Hervormde Kerk op Mookgophong aangebied is, bygewoon. Hier ontspan van die gaste in die koelte.


Die Naboom Fiësta wat deur die Hervormde Kerk op Mookgophong aangebied word, het vanjaar weer vir groot opwinding gesorg. 

Die Fiësta is vanjaar op Saterdag, 15 April, vir die vierde keer aangebied.

“Die klagte dat Mookgophong ’n stil plattelandse dorpie is wat nie veel vir besoekers bied nie, is hierdie naweek oortuigend weerlê. Die Hervormde Kerk Naboomspruit het dit weer reggekry om elke besoeker ’n stukkie Bosveld te laat beleef, ” het ds. Jan Claassen, leraar van die gemeente, gesê. 

Dié fees het mense van so ver as Gauteng en Mpumalanga gelok. Baie mense het reeds van 07:00 die hekke van die kerkterrein binnegestroom. Die kleurvolle stalletjies het van buite die terrein aandag getrek en mense en kinders wat kraai van die lag, het dit vir almal feestelik gemaak.

Van die groot trekpleisters was laserklei-duifskiet, oorlogspeletjies en ’n reusepadstal en plaaskombuis. Die mampoerstookstalletjie en die dors-en-maal-jou-eie-mieliemeelstalletjie was ook baie gewild. Baie mense het geluister hoe ’n operd (lister-) enjin die ou dorsmasjien en meule aandryf. 

Byna niks het oorgebly van die 1 300 kg wors wat gemaak is nie. Altesame 27 beeste is verwerk vir die fees en 900 kg biltong is ook gemaak. 

Volgens Susan Geyser wat verantwoordelik was vir die vleisstalletjie, het hulle ook 1 500 kg maalvleis gehad. Pap, lewer en niertjies was vanjaar nuut op die spyskaart. “Ons het 15 kg meel se pap gemaak en 30 kg lewer gaar gemaak vir ons pap-en-lewer-stalletjie,” het Ockert Scherman gesê.

Steve Hofmeyr was ook op die verhoog te sien. Martiens van Juba en die plaaslike Bosveld-boereorkes het gesorg dat die tema van die Naboom Fiësta — Afrikaners is plesierig — tot sy reg gekom het. Die hoofverhoog het heeldag gesorg vir groot vermaak. Die gehoor het bankvas gesit en kuier om die tafels terwyl hulle die sosaties, vetkoek en vleis geniet het.

Die Fiësta is op Sondagoggend, 16 April, met ’n opelugdankdiens afgesluit. 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories