HOOFSTORIES: •   Eskom gee uitstel vir terugbetaling van skuld   •   Polisie steeds op moordenaars se spoor   •   Plaasaanvalle nie altyd rasgedrewe   •   Swerm bye dood talle diere op plaas   •   Groot klopjag 'n sukses   •   Mookgophong-projekte vorder goed   •   Sielkundiges in hegtenis geneem   •   GPF versterk polisie se hand   •   Vyf jaar vir moord op baba   •   'Onwettige immigrant' vasgetrek   •   'Mercy' for Zimbabweans   •   Brief: Hoekom is radio so stil oor plaasaanval?   •   Hoofartikel: Gooi kole!   •   ERFENISDAG - viering van reënboognasie   •   Kleuterskool blaas 40 kersies dood   •   Rugbyklub vereer spelers
 

 
 

 

Onsekerheid oor Bela-Bela-kragtariewe


   17 February 2017   l   Andries van der Heyde    l   Views: 148   l   7 months ago  

 


Onsekerheid heers op Bela-Bela nadat die omstrede kragheffings, wat verlede jaar op die dorp ingestel is, glo opgeskort is. 

Gewelddadige betogings het verlede week in die Bela-Bela-township plaasgevind weens die ongelukkigheid oor dié heffings.

Die betogers het aangedring daarop dat kragheffings opgeskort moet word en dat die uitslag van die forensiese verslag, waarin raadslede weens beweerde bedrog ondersoek is, bekendgemaak moet word. 

Die gemeenskap het sake in eie hande geneem nadat die raadslede nie aan hul eise gehoor gegee het nie. 

Jeremia Ngobeni, burgemeester, se persoonlike voertuig is op Dinsdag, 7 Februarie, tydens die optogte aan die brand gesteek, asook ’n nabye gebou. Strate is ook met brandende bande en klippe versper.

Die polisie het met rubberkoeëls op die betogers losgebrand nadat hulle uit alle rigtings met klippe bestook is. Njala-polisievoertuie en bykomende lede van verskillende eenhede het bystand gebied.

’n Tragedie het die Dinsdag plaasgevind toe ’n jong kind glo per ongeluk deur ’n beampte doodgeskiet is. Dié voorval word tans deur die Onafhanklike Polisie-ondersoek-direktoraat (Opod) ondersoek. (Sien ook berig elders)

Tien betogers is ook tydens die optogte in hegtenis geneem weens skade aan eiendom, openbare geweld en brandstigting. Hulle verskyn binnekort in die Bela-Bela-landdroshof.

Sers. Hester van Zyl, polisiewoordvoerder op die dorp, het by navraag gesê vyf jongmense, tussen die ouderdom van 15 en 16, is ook weens die skade aan die burgemeester se voertuig aangekla.

Hulle is na maatskaplike werkers verwys en sou in die Bela-Bela-landdroshof verskyn het.

Vergaderings het ná die onluste gevolg en die burgemeester het glo belowe dat die gemeenskap se eise aandag sal geniet.

Pamflette is op Woensdag, 8 Februarie, op die dorp uitgedeel wat aangekondig het dat die kragheffings opgeskort is tot verdere kennisgewing. Die heffings wat reeds betaal is, gaan glo aan inwoners terugbetaal word.

Die pamflette het die munisipaliteit se embleem op gehad, asook die burgemeester se handtekening, maar die egtheid van die kennisgewing word betwyfel. 

Opposisiepartye, asook ’n groep ANC-raadslede, is van mening dat die burgemeester nie die magtiging het om die heffings summier te kanselleer sonder dat ’n amptelike raadsvergadering plaasgevind het nie. Volgens die DA het geen vergadering, wat tot die kennisgewing kon gelei het, plaasgevind nie. 

Daar word nou geredeneer dat die krag-heffings nooit deel was van verlede jaar se begrotingsvergadering nie en dat dit ook nooit werklik deur die raad aanvaar is nie.

ANC-lede, die DA en EFF het op Donderdag, 9 Februarie, tydens koukusvergaderings wat by die munisipaliteit gehou is, gesê talle raadslede het skriftelik beswaar teen hierdie heffings gemaak, maar dit is nooit aangehoor nie. 

Bewerings dat die raad in ’n negatiewe lig geplaas is deur ’n sogenaamde “opportunistiese groep” is ook bespreek en die bedanking van die burgemeester, asook die munisipale bestuurder, is weer geëis.

Tinus Ras, DA-raadslid, het gesê dit is hoog tyd dat die munisipaliteit op die gemeenskap se pleidooie reageer, sodat verdere geweld nie plaasvind nie. Die Pos het probeer om ’n afspraak met die burge-meester te maak, maar teen druktyd het Ngobeni nie gereageer nie. 

Strategiese vergaderings vind tans buite die dorp in die Mabula-omgewing plaas, het Ras gesê. Daar het egter nog geen amptelike raadsvergadering plaasgevind nie.

Die provinsiale tesourie het vroeër aan Die Pos gesê ’n span kundiges van die depar-tement van samewerkende regering, mens-like nedersettings en tradisionele sake (Coghsta), asook die tesourie het ’n onder-soek geloods om die kragheffings op die dorp te konsolideer, waarna ’n analise-verslag uitgereik sal word oor die pad vorentoe. Die Pos het ook navrae aan die tesourie gestuur, maar geen terugvoer ontvang nie.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       



Ander stories