HOOFSTORIES: •   Inwoners jaag rowers deur sentrum   •   Kyk uit vir pers toilet   •   Sakeondernemings trek swaar   •   Vragmotors by tolhek aangeval   •   Gemeenskap laat rower op sy herrie kry   •   Goeie bemarking kan dorp help   •   Trokke 'n kopseer vir sakelui   •   Vigsraad op die been gebring   •   Alleged illegal workers arrested   •   Tuinvullis kan inwoners stywe boetes besorg   •   Slangvanger maak prostese vir diere   •   Straatligte brand dag en nag   •   DIY: Huis, paleis, pondok, varkhok   •   Mookgophong reg vir Bokkieweek
 

 
 

 

Geldtekort hospitaal se grootste kopseer


   17 February 2017   l   Ronél van Jaarsveld    l   Views: 181   l   4 months ago  

 

Mense wag ure lank in wind en weer buite die F.H. Odendaal-hospitaal op Modimolle. Die wagkamer is reeds vol.


’n Afvaardiging van die VF+ het op Dinsdag, 7 Februarie, die F.H. Odendaal-hospitaal op Modimolle besoek om hulself te vergewis van die omstandighede nadat hulle verskeie klagtes ontvang het. 

Karel Niewenhuis, die provinsiale leier van dié party se Suidstreek, en Kobus Nel, wat voorheen raadslid was, het die hospitaal saam met Willie Steenberg, wat op die hospitaalraad dien, besoek. Die Pos het hulle vergesel. 

Tydens die besoek het meer as 40 mense buite gewag omdat die wagkamer vol was. “Vir ’n groot deel van die dag is daar geen koelte nie en hulle wag ure lank in die son of reën. Die afdak wat eens daar was, is beskadig, maar nooit vervang nie,” het Steenberg gesê. 

Op die oog af was dié hospitaal, met sy 122 beddens, skoon maar verwaarloos. Geute hang skeef en stukkend en gebarste waterpype ontsier die gebou. Die hospitaalgronde se tuine is egter netjies. 

Die tandheelkunde-afdeling is ’n raserig miernes. Die oopplan vertrek huisves twee tandartsstoele sowel as tafels teen die mure waar administrasie gedoen word — skaars ’n meter vanwaar daar aan ’n huilende kind se tande gewerk word. Daar is min plek om te beweeg. Die Pos het verneem die stoele en die ligte, waaroor daar talle klagtes by die koerant ontvang is, is weer in ’n werkende toestand. Die hospitaal kon vir ’n tyd lank nie tandheelkundige pasiënte help nie. Van die pasiënte het gekla dat die tandartse hul selfone moes gebruik om in hul monde te lig. 

Vyf dieëtkundiges deel ’n kantoorruimte van sowat 5 m x 5 m, wat volgepak staan met voorraad. Daar is nie ’n tafel en stoele vir almal beskikbaar nie. Die stoele se toestand is gehawend. Daar is ook geen privaatheid indien hulle die pasiënte se dieet met hulle wil bespreek nie. Dieselfde geld glo vir die sielkundiges en maatskaplike werkers. 

Die hospitaal se waskamer is nou slegs ’n sorteringstasie en ’n buitemaatskappy hanteer die wassery. Een van die werkers het gesê geen herstelwerk word meer aan klere of beddegoed gedoen nie en dat hulle in opdrag van die departement van gesondheid ’n stoorkamer vol daarvan gestuur het om vernietig te word. Slegs een werker, wat reeds ouer as 60 is, moet sorg dat al 122 beddens se beddegoed skoon is. Van die werknemers, wat anoniem wou bly, het moedeloos gesê daar is heeltemal te min personeel. “Ons is oorwerk. Van ons moes al afgetree het, maar as ons bedank, gaan ons poste nie gevul word nie omdat die departement nie geld het nie. Ons byt maar vas, want wie gaan dan die werk doen?” is aan Die Pos gesê. “Dis emosioneel uitmergelend om in sulke moeilike omstandighede te probeer werk,” het nog iemand bygevoeg. 

Steenberg het gesê hy glo die hospitaal het nie bygebly met die dorp se drastiese uitbreiding die afgelope dekade nie.

Dit moet die hele Modimolle-, Alma-, Vaalwater-streek bedien, asook ’n deel van die N1 wat ’n hoë ongeluksyfer het. 

“Die hospitaal bars uit sy nate,” het hy gesê. “Ek glo dat ons nuwe geriewe kort. Dié hospitaal, waar elke saal ’n afsonderlike gebou is wat met gange verbind word, bemoeilik uitbreiding,” het hy gesê.

Derick Kganyago, provinsiale woordvoerder van die departement van gesondheid, het gesê hulle word gekniehalter deur begrotingstekorte. “Alle nuwe aanstellings moet eers deur die tesourie goedgekeur word, voordat ons kan voortgaan. Ons hoop dat dinge in die nuwe boekjaar beter sal gaan,” het hy gesê.

 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       



Ander stories