HOOFSTORIES: •   Inwoners jaag rowers deur sentrum   •   Kyk uit vir pers toilet   •   Sakeondernemings trek swaar   •   Vragmotors by tolhek aangeval   •   Gemeenskap laat rower op sy herrie kry   •   Goeie bemarking kan dorp help   •   Trokke 'n kopseer vir sakelui   •   Vigsraad op die been gebring   •   Alleged illegal workers arrested   •   Tuinvullis kan inwoners stywe boetes besorg   •   Slangvanger maak prostese vir diere   •   Straatligte brand dag en nag   •   DIY: Huis, paleis, pondok, varkhok   •   Mookgophong reg vir Bokkieweek
 

 
 

 

Inwoners vies oor dae sonder krag


   17 February 2017   l   Ronél van Jaarsveld    l   Views: 240   l   4 months ago  

 

Dit is hoe die binnekant van die substasie in De Beerstraat gelyk het ná ’n ontploffing dit buite aksie gestel het. 


Honderde huishoudings op Modimolle was weer die afgelope week vir etlike dae sonder water en elektrisiteit.

Dit het gebeur nadat twee substasies, een in De Beerstraat en die ander in Tamsenstraat, net ná 14:00 op Saterdag, 11 Februarie, ontplof het.

Die substasie in Tamsenstraat kon die volgende dag herstel word. “Ons het spaaronderdele vir een substasie in voorraad gehad en die tegnici kon onmiddellik daaraan begin werk. Die krisis het egter op ’n Saterdagmiddag gebeur en ons kon eers teen Maandagmiddag onderdele vir die ander substasie van die verskaffer af kry,” het Marlene van Staden, burgemeester, gesê. 

Inwoners het gal gebraak op sosiale media oor hul gevriesde kosvoorraad wat verlore gaan en die koste om kragopwekkers aan die gang te hou. Die frustrasies het hoog geloop. Honderde huise het ook nie water gehad nie, omdat daar tydens die kragonderbreking nie water vanaf die watertoring gepomp kon word nie. 

“Die onderdele vir een substasie kos sowat R155 000. Ons is dankbaar dat ons dit wel in voorraad gehad het. Die koste om albei substasies te herstel, beloop sowat R400 000,” het Van Staden gesê. Die munisipaliteit gaan reeds gebuk onder finansiële druk en skuld Eskom meer as R150 miljoen rand, het sy gesê. 

Die substasie in De Beerstraat is in die vroeë oggendure van Dinsdag, 14 Februarie, herstel. 

“Ons bedank die personeel wat bereid was om deurnag te werk om die probleem so gou moontlik op te los. Baie dankie aan die inwoners wat hulle ondersteun het. Mense het kragopwekkers, ligte en eetgoed aangedra om hul werk te vergemaklik,” het sy gesê. Van Staden skryf die herhaalde probleme met die elektrisiteitstoevoer toe aan instandhoudingswerk wat jare lank nie gedoen is nie. 

 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       



Ander stories