HOOFSTORIES: •   Dorpe vir 'Dorp van die Jaar' benoem   •   Munisipaliteit soek hul geld terug!   •   Sluit van dienssentrum heroorweeg   •   Voormalige kaptein sterf aan hartaanval   •   Roodekuil-verdagte aangekeer   •   'Abandoned' police barracks a cause for concern   •   Kabeldiewe rig groot skade aan   •   Stinkstorie op Bospoort   •   Trotse eienaar van kieries leer by sy pa   •   Letter: Mayor has no answers for Bela-Bela   •   Plaaslike kunstenaar se werke ook oorsee bekend   •   Mamba verruil dorpslewe vir berge   •   Water crisis under control   •   Live life healthy   •   Laerskool vier halfeeu
 

 
 

 

Bosreus kry rusplek


   17 February 2017   l   Marietjie Steenkamp    l   Views: 868   

 

Die bosreus op Mookgophong het ’n rusplek gekry. Die besondere kremetart het op Woensdag, 8 Februarie, omgeval.


Die reusekremetartboom in 8ste Straat op Mookgophong het op Woensdag, 8 Februarie, omgeval.

Die Pos het op Vrydag, 25 September 2015, oor dié bosreus berig wat in die erf van 8ste Straat 73 staan. Toe was dit nog nie bekend hoe die boom daar gekom het nie.

Jaco Koekemoer van Modimolle het by ’n inwoner van Bela-Bela van die berig te hore gekom en dit gelees. Hy het navorsing begin doen en uitgevind dat die boom in ongeveer 1935 deur sy oupa Manie Beytell daar geplant is. Die Pos het op Vrydag, 23 Oktober 2015 oor die geskiedenis van dié boom berig.

Lydia Seegers woon sedert Maandag, 19 Desember 2016 in dié huis. Soos talle ander wat al die boom gesien het, het sy dit ook waardeer en bewonder. 

Seegers het Die Pos egter die afgelope week laat weet dat die “dame” soos hulle die reuseboom gedoop het, haar “laaste asem uitgeblaas” het. 

“Sy het so grasieus geval dat ek dit nie eens gehoor het nie. Toe die laaste tak val, het dit soos die geruis van die wind geklink,” het Seegers gesê. Haar buurvrou het die val van die boom as “christelik” beskryf. Geen skade is aangerig nie.

Die gevalle kremetart het ’n besondere vorm gehad met vier reusevertakkings. Volgens ’n Arabiese legende het kremetartbome so ’n vreemde voorkoms omdat “die duiwel die boom uitgepluk, sy takke in die aarde gedruk en sy wortels in die lug gelos” het.

Kremetart kan gebruik word vir die behandeling van sommige nierkwale en koors. Dit word deur bakkers gebruik om melk gou dik te laat word indien karringmelk nie beskikbaar is nie. Die bas is ook ’n plaasvervanger vir die geneesmiddel kinien. 

Dit is ook algemeen bekend dat die vrugte en sade in seep en kunsmis gebruik word. Papier, verpakkingsmateriaal, doek en tou kan van die boom se basvesels gemaak word. Die hout van die kremetartboom is te sponsagtig om eintlik as timmerhout te dien, maar die dik stamme word soms uitgehol om kano’s en vlotte te maak.

 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories