HOOFSTORIES: •   Beampte raakgery nadat motorryer teken ignoreer   •   Salusoord-inwoners moet ontruim   •   Community stands together; intruders arrested   •   Good news for Vaalwater residents   •   Eskom dreig om krag te sny op drie Waterberg-dorpe   •   Inwoner sterf in motorfietsongeluk   •   Slang sorg vir konsternasie by begraafplaas   •   Deviation of traffic to construct new bridges   •   Vermaak: Bekendes tree op by kunstefees   •   Diere kry swaar by Agri-skool   •   Netball girls shine   •   Plaaslike vissermanne katrol tiervisse in   •   Changes to improve MTB encounter in Waterberg
 

 
 

 

Plaaslike sanger steel harte in televisiereeks


   17 February 2017   l   Andries van der Heyde    l   Views: 3030   l   3 months ago  

 

Johan Brümmer (middel) is gekies om deel van Kahn Morbee, lid van The Parlotones, se span te wees nadat hy onlangs aan The Voice deelgeneem het. Saam met Brümmer op die verhoog is Karen Zoid en Kahn Morbee. Foto: M-Net.


Johan Brümmer, ’n musiekonderwyser van die Hoërskool Warmbad-musieksentrum, het tydens die jongste uitsending van die gewilde televisiereeks, The Voice SA, die gehoor gaande gehad.

Brümmer het voor die bekende sangers en beoordelaars van die program, Bobby van Jaarsveld, Lira, Karen Zoid en Kahn Morbee tydens The Voice se “blinde-oudisies” in Gauteng opgetree.

Die doel van dié oudisies is dat deelnemers die beoordelaars, wat met hul rûe na die deelnemers sit, moet oortuig om hom of haar vir hul span te kies. Die deelnemer begin sing en sodra een van die beoordelaars in hul stoele omdraai, word die deelnemer gekies.

Brümmer het Walking in Memphis van Marc Cohn gesing. 

Dit het nie lank geneem vir die gehoor om op hul voete te kom en te juig nie. 

Kort voor lank het Morbee en Van Jaarsveld in hul stoele omgedraai om die man in lewende lywe te sien.

“Bobby het vir my gesê ek kom ’n bietjie dangerous voor. Toe sê ek nee, ek dog ek lyk maar net swanger,” het Brümmer aan Die Pos gesê. 

Hy het veral die beoordelaars beïndruk met sy musiekkennis en die feit dat hy dromme, klavier, kitaar, baskitaar en nog ander instrumente kan bespeel. Brümmer moes tussen Van Jaarsveld en Morbee kies en het besluit om deel van Morbee se span te wees. Hy is ná sy opvoering staande toegejuig.

Morbee het veral klem gelê op die feit dat Brümmer meer as ’n komediant as sanger voorkom en dat hy in die volgende ronde op sy sang moet fokus. Brümmer is volgens die jongste meningspeilings tans een van die top drie gunstelinge op die program. 

“Vir my gaan musiek oor karakter, want deesdae kyk mense musiek op YouTube of die televisie pleks van om daarna oor die radio te luister,” het hy aan Die Pos gesê.

Brümmer het gesê hy het met ’n video-opname vir The Voice ingeskryf en is genooi vir ’n tweede oudisie voor ’n musiek- en bemarkingspaneel. Die derde oudisie, die blinde-oudisie, het voor die vier grotes plaasgevind.

Die battle-ronde en die uitkloprondes vind eersdaags plaas waar die sangers een na die ander uitgestem word totdat die top sangers uiteindelik gekies word en die publiek vir hulle kan stem.

“Ek is daar om die program opwindend te maak en ek geniet die blootstelling. Ek word nou vriendelik verplig om op die hoogte te bly van die nuutste musiek om voor te berei vir die volgende ronde, maar ek verkies om Engels en Afrikaans 50/50 te hou,” het Brümmer gesê. “Alles gaan oor selfbeeld, maar hulle sukkel nogal om vir my klere te kry. Hulle maak vir my spesiale klere vir die volgende ronde.”

Brümmer se liefde vir musiek het in die jare toet begin toe sy pa, Frik, vir die Afrikaanse sanggroep, Groep 2, kitaar en dromme gespeel het en ook saam met die sangers van die groep, Gert van Tonder en Sias Reyneke, opgetree het. Brümmer het gewoonlik saamgetoer.

“Ek was so 9 jaar oud toe ek gevra is om liedjies soos Ruiter van die windjie en Karolus saam met die orkes op die verhoog te sing. Hulle het my destyds R10 per liedjie gegee.”

Brümmer het sy skoolloopbaan op Groblersdal voltooi en het by ’n musiekakademie, asook deur Unisa in Pretoria gestudeer. Hy het daarna vir ’n jaar saam met die Suid-Afrikaanse Weermag se vermaakgroep getoer voordat hy saam met sy vrou, Susan, op Bela-Bela kom woon en musiek begin afrig het. 

Noudat hy op The Voice optree, word hy ook gereeld deur sy twee beste vriende, Willem Pietersen en Tinus van Rensburg op en agter die verhoog bygestaan. Sy daaglikse program is egter volgens hom vreeslik vol.

“Aangesien ek daar moet optree, gaan dit vir my moeilik wees om my musieklesse by Hoërskool Warmbad in te pas en ek wil regtig nie my leerders afskeep nie. Die blootstelling beteken baie vir my,” het hy gesê.

“My grootste ondersteuners is my vrou, Susan, en my kinders, Sanrico en Pedrie. Dan is daar ook Bosveldspruitjies Kleuterskool — veral Joritha Burger is een van my grootste aanhangers.”

Kyk gerus na The Voice om Brümmer se vordering in dié televisiereeks dop te hou. Sy aanhangers kan hom op Facebook volg by Fatman Brümmer of op Twitter by @fatman_brummer.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories