Liewe Kersvader, Kersfees gaan oor Jesus


   23 December 2016   l   Andries van der Heyde    l   Views: 54   

 

Annemarie Prinsloo, ’n gr.2-leerder van Laerskool Warmbad, het Kersvader baie mooi gevra vir ’n handsak en ’n baie groot teddiebeer sodat die teddie by haar in die bed kan slaap. Sy wil ook soos haar ma met ’n handsak kan “speel”.


Die Pos het Kersvader gehelp om deur ’n klomp Kersbriefies van Laerskool Warmbad se leerders te sif om te sien wat die kinders vanjaar die graagste vir Kersfees wil hê.

Baie kinders het Kersvader gevra om eers die minderbevoorregtes te help voordat geskenke by die res afgelewer word. Baie van die jonges het Kersvader ook daaraan herinner dat hy slegs bestaan om geskenke af te lewer en dat Kersfees in werklikheid oor die geboorte van Jesus Christus gaan. Tog het talle van die leerders darem genoem dat hulle vanjaar baie, baie soet was — by die skool en ook tuis.

Van die gunstelinggeskenke wat Kersvader moet aflewer, sluit in radarbeheerspeelgoed, fietse, tablette, selfone, horlosies, legostelle en ’n tweewielskaatsplank (J-board).

Selfone, X-box’e, die nuutste Playstation 5, ’n PSP, asook rekenaars was ook hoog op die lyste.

Die aktiewe kinders se keuse vir geskenke was pyl en boë, pienk snorkels, skopfietse, krieketstelle, rolskaatse, motorfietse en trampoliens. ’n Jong man het ook vir ’n visstok gevra, maar Kersvader het aan Die Pos gesê hy is bietjie skrikkerig om vir laerskoolkinders messe, swaarde of pangas te gee.

Meisies het meer geneig na verskillende soorte poppe, teddiebere, Barbie en haar maat Ken, klere, juwele en pophuise. ’n Paar seuns het ook vir ’n aksieheld en karre gevra. 

Die kinders wat weet hoe bankkaarte werk, het Kersvader eerder vir ’n paar rand gevra. 

Kersvader is ook besig om vir die outjies wat net wil ontspan oorfone, luidsprekers, ’n radiostel, musiek, ’n kamera en die nuutste flieks bymekaar te kry.

Kersvader het troeteldiere se permitte na Limpopo lankal uitgeklaar nadat ’n klomp kinders vir ’n klein hondjie, ’n hamster, voëltjie, ’n perd (want sy bly op ’n plaas) en ’n kat gevra het.

Kersvader sal hard moet probeer om die volgende items betyds te kry aangesien ’n boomhuis, DSTV, ’n seevakansie, ’n nuwe boetie, swembad, hommelvliegtuig, Bloubul-beddegoed en rykdom ’n bietjie lank gaan neem om in die hande te kry.

 

 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first

 

Ander stories

 
 

Hoofnuus