‘Vone en aaiperds’ op die kinders se wenslyste


   23 December 2016   l   Ronél van Jaarsveld    l   Views: 67   

 

Chanel Viviers, ’n gr.1-leerder van Laerskool Nylstroom, vra vir ’n “scooter en i-pad”.


Die Pos kon weer vanjaar ’n vinnige kykie in Kersvader se possak kry na die briewe wat Modimolle se jongspan aan hom gestuur het. 

In verlede jaar se Kersbriefies het bykans al die kinders vir selfone gevra. Dit wil lyk asof hul wense verlede Kersfees waar geword het, want vanjaar is dit meestal vervang deur meer tradisionele speelgoed soos pophuise, poppe, aksiefigure, afstandbeheerkarre en fietse. Daar is egter nog ’n klompie wat wag vir hul “vone en aaiperds”. 

Een ding staan soos ’n paal bo water: dié klompie wéét wat hulle wil hê. Die man met die rooi jas beter die fynskrif mooi gaan lees. Dit is nie sommer só ’n pophuis nie, maar ’n pienk ene wat buite kan staan. Die afstandbeheer kar moet róói wees met ’n blou “rimout”. Die Barbiepop moet mooi klere hê, lang hare én ’n goeie man (dit wys net, lang blonde hare en mooi klere waarborg ’n mens nie ’n man nie . . . selfs ’n sewejarige het dié wysheid besef).

Die plaasseuns se boerderybloed loop egter dik. Hul versoeke wissel van ’n .223-geweer tot een seuntjie wat ’n prentjie van bome in die reën geteken het en ’n baie spesifieke lysie: “Ek soek ’n mooi trok, ’n grood trekr, ’n dis, ’n ploeg, ’n telir, ’n strooper en ’n goeie bakie.” Wie weet wanneer mens dalk onverwags moet begin boer?

Daar was, soos elke jaar, die briefies wat mens hardop laat lag het óf ’n paar trane laat afvee het. Een briefie vra ’n seuntjie baie mooi vir ’n “vuurpuil” en ’n pappa en teken’n klein stokmannetjie wat in ’n groter stokmannetjie se oop arms inspring. (Boeta, ons hoop Kersvader bring vir jou ’n goeie ene.) In nog ’n briefie vra ’n kind vir gom. Net gom. 

Katli Hlaole van Laerskool Eenheid (gr.1) oortuig Kersvader in sy briefie dat hy vanjaar ’n soet kind was. Op sy wenslysie is ’n “cantrol rimot car”. Resego Mapodile, ook ’n gr.1-leerder by dieselfde skool, oortuig die bebaarde rooi vent met ’n kleurvolle prent dat ’n pop haar hart sal bly maak. 

Laerskool Nylstroom se gr. eentjies het Kersvader se inkopielys mooi vir hom uiteengesit. Magdelize Boshoff van Laerskool Nylstroom is een van die meisies wat ’n pophuis soek en Chanel Viviers vra vir ’n “scooter en i-pad”. Matthew Smit balanseer prakties en lekker en vra vir ’n horlosie en ’n krieketkolf en –bal.

 

 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first

 

Ander stories

 
 

Hoofnuus