N1 gesluit ná grusame ongeluk


   15 December 2016   l   Marietjie Steenkamp    l   Views: 2990   

 

Twee motors was op Saterdag, 10 Desember, buite Mookgophong in ’n botsing reg van voor betrokke. Ses mense is dood en twee ernstig beseer. 


Ses mense is op Saterdag, 10 Desember, omstreeks 09:45 dood en twee ernstig beseer ná ’n botsing reg van voor.

Die ongeluk het ongeveer 8 km buite Mookgophong op die N1-suid plaasgevind. 

Die twee motors, ’n Volkswagen Polo en ’n Mercedes Benz, het vermoedelik probeer uitswaai vir ’n bus wat oor die pad geswenk het. 

Al drie die insittendes van die Polo, wat van die Kgapane-nedersetting is, het op die toneel gesterf. Twee van die drie oorledenes van die Polo is onderskeidelik 45 jaar oud en die ander een 61. Drie van die vyf insittendes van die Mercedes is op slag dood en die ander twee is ernstig beseer.

Volgens lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het die bus meganiese probleme ondervind en toe oor die pad begin swenk waarna die bestuurder beheer verloor het. Die twee motors het ’n botsing met die bus probeer verhoed en toe in mekaar vasgery. 

Volgens ao. George Ledwaba van die polisie op Mookgophong was een van die oorledenes in die Mercedes Benz van Modimolle afkomstig en een van Mookgophong. Aanvanklik is daar gesukkel om die oorledenes van die Mercedes uit te ken aangesien die mense wat geskakel is, doodgedruk het sodra die polisie met hulle wou praat. Hulle name is steeds nie bekend nie, maar volgens Ledwaba is die slagoffers se naasbestaandes reeds opgespoor.

Die twee ernstig beseerdes is na ’n hospitaal op Mokopane geneem vir behandeling. Die N1 was byna die hele dag gesluit vir opruimingswerk.

 

 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first

 

Ander stories

 
 

Hoofnuus