HOOFSTORIES: •   Woede kook oor grondgryp   •   Kommer oor krokodille in swemdam   •   Vaalwater-vrou sterf aan malaria   •   Raad bespreek krag-dilemma   •   'Buffelbedrieër' verdwyn   •   Grondbesetting: 'Ons sal dit nie duld nie!'   •   Veiligheidswag dra vuurwapen sonder permit   •   Brief: inwoners ry self vullis weg   •   Stadig met water op Modimolle   •   Só lyk verdagtes van wrede plaasaanval   •   DA-raadslid beseer tydens staking   •   Brandverbod opgehef   •   Jong entrepreneur maak Vaalwater soet   •   Mountain bikers go for gold   •   Nylie-krieket kraai koning
 

 
 

 

Fiat-voertuie onder die vergrootglas


   01 September 2017   l   Paul Smith    l   Views: 116   l   53 days ago  

 

Fiat se unieke kruisvoertuig, die Panda, lyk kompleet soos ’n beertjie wat ’n mens huis toe sal volg.


Fiat is nou nie juis op die platteland die eerste handelsnaam wat opduik indien ’n mens ’n nuwe voertuig wil aanskaf nie.

Die Italiaanse reus word nie goed in Limpopo verteenwoordig nie en indien ’n mens wel een aanskaf, is ’n dag in Pretoria of Polokwane nodig om die motor te diens. 

Hierdie ongerief, asook die voertuig se swak herverkoopwaarde, veroorsaak dat selfs die baie goeie Fullback-bakkie skaars op Suid-Afrika se paaie is.

Tog is Fiat se gehalte en besondere fokus op detail iets wat Fiat-eienaars tevrede laat glimlag elke keer dat hulle ’n Fiat bestuur. 

Die uiters gewilde Jeep Renegade is juis ’n Fiat wat met ’n Jeep-kenteken toegerus is. Fiat het egter onlangs nog twee baie opwindende produkte aan die Suid-Afrikaanse mark bekendgestel wat albei ’n toetsrit verdien.

Die stylvolle Tipo is in luikrug en sedan weergawes beskikbaar en die goedkoopste model kos slegs R229 000.  Soos genoem is daar oral klein verrassings wat toerusting en detail betref. ’n 1.3-, 1.4- en 1.6-enjin doen diens en die 1.6 stuur sy krag deur ’n autokas na die wiele. 

Fiat beweer brandstofverbruik van so laag 3.3 liter per 100 km is moontlik en boonop word die elegante binneruim met die beste bagasieruim in sy klas gekom-plementeer. 

Die sedan spog met ’n allemintige 520 liter bagasiebak en dan is daar nog steeds oorgenoeg beenspasie. 

Net die Fiat se ontwerpspan sal weet hoe soveel spasie in ’n motor van slegs 4.5 meter ontsluit kan word.

Die bakwerk se stilering is elegant en volwasse en mans sal nie skaam wees om agter die stuur in te skuif nie.

Vir kopers wat ’n praktiese, elegante en stylvolle motor benodig wat nie die spaarbussie sal breek nie, is die Tipo ’n unieke aanbieding.

’n Bietjie laer af op die pryslys bied Fiat weer die oorspronklike kruisvoertuig, die Panda, aan. 

“Oulik” is die woord wat dié voertuig ten beste beskryf en dit is moeilik om te glo dat daar ’n “ouliker” motor as die Panda kan wees.

Die Panda lyk kompleet soos ’n beertjie wat ’n mens huis toe sal volg. 

Die intreemodel kos R185 000, maar daar is ook ’n viertrekvoertuig beskikbaar en dan is daar die viertrek-Cross wat met meer plastiekversierings as ’n Chinese speelgoedwinkel spog. 

Die Cross lyk rof en astrant en die vier-trek-sisteem met ’n sentrale ewenaarslot maak die buksie verbasend bekwaam. 

Die 900 cc-enjin haal deur ’n turbo asem om lug in sy twee silinders te kry. 

Twee silinders klink wel ’n bietjie min maar met 6 kW en 145 Nm kry dié piepklein bronnetjie die ligte motor vinnig genoeg aan die beweeg.

Vir ’n pa wat soms skelm sy studentedogter se motortjie wil leen, is die Panda die eerste keuse. 

  • Paul Smith is ’n motorliefhebber, gesinsman en eienaar van die Spur op Bela-Bela. Hy is verantwoordelik vir Die Pos se maandelikse motorbylae.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       



Ander stories