HOOFSTORIES: •   Skok ná nog ’n selfdood   •   Stropers loop hul vas   •   Sentrum wemel van polisie ná vals alarm   •   Goeie nuus vir Salusoord-inwoners   •   Leeustropers slaan weer toe in Vaalwater   •   Hoë tariewe reggestel   •   Rowers teiken weer winkel in hoofstraat   •   "Ons bring werksgeleenthede" sê myn   •   Diewe teiken hoërskool   •   Weg met mishandeling!   •   Tuinmaak is terapeuties   •   Burgemeester deel sukses-wenke   •   Atlete sweet tydens strawwe driekamp
 

 
 

 

Hyundai Creta ’n gewilde nutsvoertuig


   05 May 2017   l   Paul Smith    l   Views: 232   l   3 months ago  

 

Die Hyundai Creta is ’n goed toegeruste voertuig wat toeganklik is vir kopers met ’n platter beursie. Foto: www.cars.co.za


Met die wêreldwye gewildheid van sportnutsvoertuie van alle groottes, is daar nie meer vervaardigers oor wat nie pens en pootjies op hierdie wa geklim het nie. 

Hyundai, wat natuurlik die Terracan en Tucsun gebou het in die dae toe sedanmotors nog voldoende was, het nou drie deelnemers in die nutsvoertuigmark. Met die bekendstelling van die Creta is hierdie gewilde rygoed nou nóg meer toeganklik vir kopers met ’n platter beursie. 

Die Creta word dadelik as ’n Hyundai uitgeken en die familie-ooreenkoms met die Tucson is so sterk dat onoplettende mense nie eens die naam op die kattebak hoef te lees nie. Die nuweling spog met groot misligte en plastiekbedekking in die wielboë en al om die onderkant van die motor. Met 190 mm se grondvryhoogte en kort bakwerk lyk die Creta sommer slag-gereed vir ’n naweek propvol avontuur.  

Die binneruim is gemaklik en daar is veral baie kopspasie danksy ’n lekker hoë dak. Beenspasie is indrukwekkend en die sitplekke bied uitstekende ondersteuning. 

Hoewel die brosjure die sitplekbekleedsel as leer beskryf, was daardie leer nog nooit deel van ’n lewendige dier nie.

 Die mensgemaakte leer, of viniel soos ons dit in die ou dae genoem het, vertoon egter goed, sal maklik skoon gehou kan word en behoort lank te hou. 

Mercedes kry dit nog steeds reg om miljoenrandmotors met hulle MB Tex-kunsleer te verkoop wat vir jare goed lyk en uiters prakties is. 

Die plastiek is plek-plek hard, maar alles is goed aanmekaar gesit en die gewone funksies word met ’n groot vertoonskerm beheer. 

Daar is net drie modelle in dié reeks en almal het dieselfde toerustingsvlak: ’n 1.6 petrol in handrat of outomaties en ’n 1.6 outomatiese diesel. Die 1.6 petrol gebruik nie veel meer brandstof as die diesel nie en is natuurlik heelwat goedkoper. Met identiese toerusting, is die goedkoopste model dus ongetwyfeld die beste kopie.

Die Creta het baie mededingers, maar teen R320 000 vir die 1.6-handrat is daar nie juis beter opsies nie. Die Creta se afwerking en ruimte troef die goedkoper Ford Ecosport en ’n motor soos die Mitsubishi ASX wat ’n soortgelyke aanbieding is, is heelwat duurder.  

Die Creta het nie ’n unieke karakter nie, maar bied ’n eerlike, goeie kwaliteit, goed toegeruste voertuig wat heerlik sal wees om mee saam te leef. As ’n motor vir daaglikse gebruik wat af en toe op ’n naweekuitstappie gaan, moet die Creta bo-aan die kortlys wees.

  • Paul Smith is ’n motorliefhebber, gesinsman en eienaar van die Spur op Bela-Bela. Hy is verantwoordelik vir Die Pos se maandelikse motorbylae.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       



Ander stories