HOOFSTORIES: •   Woede kook oor grondgryp   •   Kommer oor krokodille in swemdam   •   Vaalwater-vrou sterf aan malaria   •   Raad bespreek krag-dilemma   •   'Buffelbedrieër' verdwyn   •   Grondbesetting: 'Ons sal dit nie duld nie!'   •   Veiligheidswag dra vuurwapen sonder permit   •   Brief: inwoners ry self vullis weg   •   Stadig met water op Modimolle   •   Só lyk verdagtes van wrede plaasaanval   •   DA-raadslid beseer tydens staking   •   Brandverbod opgehef   •   Jong entrepreneur maak Vaalwater soet   •   Mountain bikers go for gold   •   Nylie-krieket kraai koning
 

 
 

 

Navara spog met nuwe dubbelkajuit-ontwerp


   07 April 2017   l   Paul Smith    l   Views: 228   l   6 months ago  

 

Die nuwe Navara se ontwerp is ’n aansienlike verbetering op die ou model.


Nissan spesialiseer reeds lank in bakkies en sportnutsvoertuie en hul verkope in Suid-Afrika weerspieël hul fokus op hierdie plaaslike gunstelinge. 

Dubbelkajuitbakkies is ook nie meer veeldoelige werkesels nie, maar eerder hoogs gespesialiseerde en verfynde leefstylvervoer.

Nissan se Navara was destyds die eerste van die “groter” generasie bakkies wat nou die norm is. Tog het Nissan blykbaar heeltemal vergeet om die Navara te vernuwe en ons wag al sedert 2014 angstig op ’n nuwe model. In sommige markte staan die bakkie as die NP300 bekend, maar Nissan se die huidige NP300 Hardbody sal vir nog minstens twee jaar hier as ’n goedkoper aanbieding beskikbaar wees.  

Met slegs drie modelle wat dieselfde enjin en 4x4-aandrywing deel, is die reeks uitsluitlik op die hoër punt van die bakkiemark gerig. Die besef dat kopers aan hierdie kant van die mark eerder ’n bakkie vir naweekplesier as bouwerk aanskaf, word duidelik weerspieël in die weglating van agterste bladvere. 

Ja, Nissan is die eerste vervaardiger wat dapper genoeg is om ’n bakkie met kronkelvere toe te rus. Dit is nou as die volksvreemde Ssangyong Musso Sport buite rekening gelaat word. As kronkelvere beter was vir vrag dra, sou vragmotors en treine ook daarmee toegerus gewees het. Die Navara gaan egter heel waarskynlik nooit meer as bergfietse, kamptoerusting of ander naweekspeelgoed vervoer nie. 

Waar kronkelvere wel uitblink, is met rygerief. Gevolglik ry en hanteer die Navara soos ’n nutsvoertuig en is daar geen teken van die Hilux se harde rit en hoppery as die bak nie gelaai is nie.

Die 2.3 diesel gebruik twee aanjaers om 140 kW en ’n stewige 450 Nm te lewer wat net deur Ford se groter 3.2 geklop word. Die Nissan vertoon meer kompak as sy voorganger en die kante van die enjinkap is hoog, wat die bestuurder laat voel asof hy laag in die voertuig sit. Die ontwerp is ongetwyfeld ’n aansienlike verbetering op die ou Navara.  

Kronkelvere laat ook meer wielartikulasie toe en met 229 mm grondvryhoogte behoort veldryvermoë voldoende te wees. Die wielstelsel word maklik met ’n draaiknoppie uit die gerieflike kajuit beheer. Die bakkies is baie goed toegerus soos daar van enige bakkie aan hierdie kant van die mark verwag kan word. Die plastiek op al die binne-panele is hard en dit stel ’n bietjie teleur as ’n koper byna R600 000 opdok.  

Met sy beperkte reeks behoort die Navara nie die Hilux en Ranger se verkoopsyfers te veel om te krap nie, maar vir kopers aan die boonste kant van die bakkiemark wat die rygerief van ’n motor begeer, is die Navara dalk net die antwoord. 

• Paul Smith is ’n motorliefhebber, gesinsman en eienaar van die Spur op Bela-Bela. Hy is verantwoordelik vir Die Pos se maandelikse motorbylae.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       



Ander stories