HOOFSTORIES: •   Woede kook oor grondgryp   •   Kommer oor krokodille in swemdam   •   Vaalwater-vrou sterf aan malaria   •   Raad bespreek krag-dilemma   •   'Buffelbedrieër' verdwyn   •   Grondbesetting: 'Ons sal dit nie duld nie!'   •   Veiligheidswag dra vuurwapen sonder permit   •   Brief: inwoners ry self vullis weg   •   Stadig met water op Modimolle   •   Só lyk verdagtes van wrede plaasaanval   •   DA-raadslid beseer tydens staking   •   Brandverbod opgehef   •   Jong entrepreneur maak Vaalwater soet   •   Mountain bikers go for gold   •   Nylie-krieket kraai koning
 

 
 

 

Renault Kwid te klein om ernstig op te neem


   03 February 2017   l   Paul Smith    l   Views: 270   l   8 months ago  

 

Die Kwid is goedkoop, maar nie goeie waarde vir geld nie. Foto: carmag.co.za


Renault het met die nuwe Kwid se bekendstelling sy begrip van die Suid-Afrikaanse-motorbedryf bewys. 

Met nuwe motorregistrasies wat in 2016 sy laagste vlakke sedert 2010 bereik het, is motorryers desperaat vir bekostigbare nuwe motors. Met pryse rondom R130 000 vir ’n motor wat minstens op foto’s soos ’n kompakte nutsvoertuig lyk, het Renault voortgebou op ons mark se behoefte aan kruis- en nutsvoertuie. Onthou, Renault het reeds ’n lang lys nutsvoertuie in hul brosjure en met Desemberverkope van byna 800 Kwid-motortjies, het hulle die spyker mooitjies op die kop getref.

As die Kwid egter in die vlees bekyk word, is dit duidelik dat die fotograwe op hul mae moes lê om hierdie klein buksie na iets te laat lyk. Die wiele is piepklein in die plastiekgehulde wielnisse. As die sierrooster, ligte en plastiekafwerking van naby met ’n groot lens afgeneem word, lyk die motortjie nogal manlik, maar met die blote oog is hierdie motortjie net te klein om ernstig opgeneem te word.

Selfs die misligte kan nie die Renault se verbintenis met die Datsun Go wegsteek nie. Renault en Nissan is lankal saam in die kooi en hulle het besluit om die Datsun ’n testosterooninspuiting en ’n Renault-kenteken te gee. In die regte lewe groei mens egter nie baard van een inspuiting nie en teen 700 kg gaan die Kwid niemand oortuig dat hy eintlik ’n kruisvoertuig is nie.

Die lae massa help darem om die meeste te maak van die 50 kW wat die 1,0 liter drie silinder enjin lewer. Die gewilde 900 cc turbo wat Renault in die Sandero gebruik sou lekker werk, maar die vervaardigingskoste was moontlik die grootste struikelblok. Met die relatiewe hoë maar veerligte bakwerk sal die Kwid wegwaai in Augustus en kan hoë snelhede op winderige dae ’n uitdaging raak.

Soos in die Go is veiligheidstoerusting maar skaars. Daar is een lugsak en, ja, veiligheidsgordels en … dis al. Daar is ’n groot raakskerm-navigasie en vermaaklikheidstelsel wat jonger kopers sal geniet. Afwerking is ’n bietjie beter as die Go, maar as luukse vervoer ’n vereiste is, sal die binneruim teleurstel.

Die Kwid is goedkoop, maar verteenwoordig nie goeie waarde nie en soos Franse motors is, gaan hy verniet weggegee moet word as dit by herverkoop kom. As ’n gebruike motor regtig nie ’n opsie is nie, probeer maar eerder ’n paar ekstra rande afknyp vir ’n Hyundai of Ford Figo.

* Paul Smith is ’n motorliefhebber, gesinsman en eienaar van die Spur op Bela-Bela. Hy is verantwoordelik vir Die Pos se maandelikse motorbylae.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       



Ander stories