HOOFSTORIES: •   Dorpe vir 'Dorp van die Jaar' benoem   •   Munisipaliteit soek hul geld terug!   •   Sluit van dienssentrum heroorweeg   •   Voormalige kaptein sterf aan hartaanval   •   Roodekuil-verdagte aangekeer   •   'Abandoned' police barracks a cause for concern   •   Kabeldiewe rig groot skade aan   •   Stinkstorie op Bospoort   •   Trotse eienaar van kieries leer by sy pa   •   Letter: Mayor has no answers for Bela-Bela   •   Plaaslike kunstenaar se werke ook oorsee bekend   •   Mamba verruil dorpslewe vir berge   •   Water crisis under control   •   Live life healthy   •   Laerskool vier halfeeu
 

 
 

 

Gaan die water hier ooit vir hom geroer word?


   02 December 2016   l   Paul Smith    l   Views: 140   

 


Met my oorerflike Oos-Rand voorliefde vir goeters met wiele en enjins, het dit só gebeur dat daar meer rygoed as bestuurslisensies op die werf is. 

Met die bestuur van my privaat “vloot” het ek natuurlik bogemiddeld baie ondervinding met die rompslomp by ons plaaslike lisensiekantoor opgedoen. Soos verwag, was genoemde ondervinding meer sleg as lekker, maar ondervinding nietemin. 

Ek lees onlangs ’n brief in Die Pos (Vrydag, 18 November) van ’n hoogs gefrustreerde motoreienaar wie se bloeddruk danksy die einste lisensiekantoor nuwe hoogtes bereik het. Ter wille van ’n tikkie binnepret en in ’n wanhopige poging om myself te vermaak terwyl ek die gaatjies op die stoele van die lisensiekantoor tel, het ek lank reeds die vergelyking met Johannes 5 getref. 

Volgens die prentjie in my kop het desperate siele ure, dae en jare hoopvol in die pilaargange van die bad by Betésda gewag. Net so wag motoreienaars en lisensie-aansoekers geduldig, dag in en dag uit, dat die water tog net geroer word. Party dae word dit vroeg geroer en lisensies word flink afgehandel en dan . . . vir die res van die dag is daar nie ’n rimpeling nie. Op sekere dae kwalifiseer net sekere kwale om voordeel uit die rimpeling te trek, ander dae lê die water heeldag doodstil. 

Ek self, voor ek by die menigte aansluit, loer gewoonlik so in die pilaargang af om die gevoel te kry of die water dalk vandag vir my geroer gaan word en of iemand anders dalk voor my in die bad gaan spring. Laas het ek ná ete tevergeefs na die beweginglose water gestaar en teen toemaaktyd was daar nog geen teken van ’n roering nie. 

Die werkers is ook nie juis lus om my in die water te help nie. Anderdag sou die lisensie-aansoekwater kwansuis reeds teen 07:30 in beweging kom, maar nee, teen 09:00 was daar nog nie eers ’n skommeling nie. 

Die bromponie se nuwe registrasiedokument wag juis ook al drie maande, maar die roerder was met verlof. Mag die water tog weer eendag vir my in roering kom. 

* Paul Smith is ’n motorliefhebber, gesinsman en eienaar van die Spur op Bela-Bela. Hy is verantwoordelik vir Die Pos se maandelikse motorbylae.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories