Huyndai Tucson is verfrissend


   02 September 2016   l   Paul Smith    l   Views: 272   

 

Die nuwe Hyundai Tucson.


Die IX35 en sy voorganger, wat ook ’n Tucson genoem was, het gesamentlik  meer as 50 000 nuwe kopers gelok en het hierdie Koreaanse vervaardiger as ’n belangrike speler in die marksegment vir kompakte nutsvoertuie gevestig.

Hyundai het reeds in Maart 2016 sy nuwe Tucson aan die Suid-Afrikaanse mark bekendgestel en word reeds op ons paaie gesien.  

Met ’n aggressiewe sierrooster en LED-liggies voor — wat ook bedags skyn — rond die vooraansig die motor af wat meer Europees as ander Hyundai-modelle lyk.

Hyundai bied ’n interessante palet van kleurkeuses wat ’n verfrissende of ten minste unieke verskeidenheid aan kopers bied.

Die luukse modelle spog met ’n panoramiese sondak wat oor die lengte van die motor strek. Hierdie uitgestrekte stuk glas verleen ’n ligte en ruimtelike atmosfeer aan die goed toegeruste binneruim.

Soos verwag is die Bluetooth-, USB- en IPod-verbindings standaard.

Die gemaklike voorste sitplekke kan albei elektronies verstel word om die uitsig op die besige voorste paneelbord te vergemaklik. In teenstelling met die minimalistiese neiging van die meeste nuwe motors is daar redelik baie knoppies — waarvan ek persoonlik meer hou.

Die tru-kamera skakel outomaties aan, maar sy beeld word in die tru-spieëltjie vertoon, wat dit heelwat makliker maak om agteruit te ry omdat mens slegs die tru-spieëltjie kan dophou. Verder word veiligheid verbeter aangesien die bestuurder nog steeds in die spieël kan sien wat agter hom gebeur. 

Met ses lugsakke, ’n lang lys elektroniese beheertoestelle en ’n oulike moniteringstelsel vir die blindekol, is al die veiligheidsblokkies afgetik. Die blindekolstelsel hou ’n ogie op verkeer en waarsku die bestuurder wanneer hy van baan wil verwissel terwyl daar ander verkeer in die blindekol inbeweeg. 

Spoedbeheer verseker dat enige van die twee beskikbare petrolenjins die langpad gemaklik kafdraf. Die intree-enjin is die bekende 2.0 l wat 115 kW en 196 Nm lewer terwyl die Veloster Turbo se 1.6-petrolenjin net so in die Tucson oorgeplant is. Met 130 kW en 265 Nm is die 1.6 lewendig, maar dalk nie heeltemal wat kopers van ’n gemaklike nutsvoertuig verwag nie. Aan die anderkant is dit ook nie heeltemal genoeg woema vir die Veloster se sportiewe ambisies nie.

Met pryse wat wissel vanaf R370 000 tot R520 000 is die Tucson, veral die intree-modelle, ’n waardige alternatief. Hy kompeteer goed met die nuwe X-Trail, wat so bietjie sy persoonlikheid verloor het.

Met Hyundai se goeie reputasie en kwaliteit, kan mens verwag om nog baie meer Tucsons op die land se besige paaie te sien.  - Paul Smith

 

 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first

 

Ander stories

 
 

Hoofnuus