HOOFSTORIES: •   Inwoners vies oor vullis in veld   •   Waterkrisis dreig op Mookgophong   •   Polisievrou beseer in ongeluk   •   Groot skade by onderneming ná brand   •   Vroue byna op trein wat bots   •   Hou diere koel op warm dae   •   Unieke skaapras onder die hamer   •   Nuwe baadjie vir begraafplaas   •   Korrupte polisielede in hegtenis   •   Voer op trok vat vlam   •   Leiers reg vir uitdagings
 

 
 

 

Vee éérs voor eie deur


   23 November 2017   l   Hoofartikel    l   Views: 23   l   58 days ago  

 


Die onderwyssituasie in Suid-Afrika het die afgelope paar maande in die kollig beland nadat die nuwe wysigingswetsontwerp op basiese onderwys in Oktober vanjaar in die Staatskoerant gepubliseer is.

Daar word 46 veranderinge in die huidige wetgewing oor basiese onderwys voorgestel wat volgens onderwys-kenners en belanghebbendes die staat groot mag oor skole kan gee.

Dit is ironies dat die wysigings volgens kenners grootliks konsentreer op dit wat kwansuis “verkeerd” is in enkelmediumskole.

Dít terwyl dié skole bekend is vir uitstekende akademiese en sportprestasies.

’n Mens kan amper nie besluit of die voorgestelde wysigings ’n poging is om goeie skole se standaard af te takel tot dié van onder meer sommige township-skole nie, of ’n rookskerm is om dit wat eintlik “verkeerd” is by die swak bestuurde skole wat onder die vaandel van die departement van basiese onderwys val. 

Miskien moet dié departement eers voor hul eie deur vee voordat daar getorring word aan skole waar die ratte ge-olie is.

Dié departement kan ook sommer eerste die besem in Limpopo gebruik. 

Die skreiende tekort aan basiese geriewe by skole in dié provinsie is op die oomblik in die kollig tydens ’n hofsaak waarin ’n ouerpaar die departement dagvaar nadat hul seuntjie, Micheal Komape (6), in 2014 dood is nadat hy in ’n puttoilet by sy skool buite Polokwane geval het.

Hy het letterlik in die rioolvuil verdrink. 

’n Mens sou dink dat dié departement sedert 2014, ná sy dood, onverpoosd sou werk om veilige toiletgeriewe by alle skole in die land te voor-sien.

Die tekort aan toilette by skole in Limpopo bly egter ’n groot kopseer. Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, het vroeër vanjaar ’n klagte by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien nadat hy tydens ’n oorsigbesoek by ’n laerskool in dié provinsie opge-merk het dat leerders die veld as toilet gebruik. 

Die puttoilette wat wel by dié skool beskikbaar is, is vervalle en die leer-ders is skynbaar bang om dié toilette te gebruik.

Nasionale beleid bepaal dat daar een toilet per 22 leerders moet wees. In Limpopo is die teiken, volgens Smalle, een toilet vir 40 leerders.

Die departement van basiese onderwys moet dalk net eers basiese geriewe soos toilette by alle skole voorsien voordat hulle tyd, energie en geld aan wysigings aan die wets-ontwerp bestee om skole wat goed funksioneer ook te kniehalter.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories