HOOFSTORIES: •   Inwoners vies oor vullis in veld   •   Waterkrisis dreig op Mookgophong   •   Polisievrou beseer in ongeluk   •   Groot skade by onderneming ná brand   •   Vroue byna op trein wat bots   •   Hou diere koel op warm dae   •   Unieke skaapras onder die hamer   •   Nuwe baadjie vir begraafplaas   •   Korrupte polisielede in hegtenis   •   Voer op trok vat vlam   •   Leiers reg vir uitdagings
 

 
 

 

Dankie tog vir die eerbares


   16 November 2017   l   Hoofartikel    l   Views: 20   l   2 months ago  

 


Die eerlike, hardwerkende, doeltreffende mense — en daar is báie van hulle — wat by plekke soos die polisie, munisipaliteite, verkeerspolisie, immigrasiekantore en politieke instellings werk, verdien ’n monument. 

Dit moet ontsettend ontmoedigend wees om daagliks te hoor en te lees van vergrype, ongerymdhede, korrupsie en ander skandalige gedrag van ’n mens se seniors.

Boonop word baie van dié mense, wat die ruggraat van ’n instansie vorm, deesdae gemuilband. Hulle mag nie praat nie, want anders ... Wie wil nou in vandag se ekonomiese tye sonder werk sit?

Dit moes ontsettend afbrekend vir hardwerkende polisielede op Bela-Bela gewees het om die afgelope twee weke die teiken van ’n vuisvoos gemeenskap se woede te wees oor bisarre inhegtenisnemings ná die Swart Maandag-optogte of oor ’n “tekort” aan voertuie wanneer ’n plaasaanval aangemeld word. Die feit dat die polisie landwyd “vaag” reageer op kritiek oor sake soos plaasmoorde, maak die publiek (met reg) net meer woedend.

Nog ’n geval wat die publiek laat uitvaar het teenoor die polisie, is die onlangse ontsnapping van ’n gevaarlike verhoorafwagtende uit polisieaanhouding op Lephalale. Wat help dit ’n organisasie soos die Heritage Protection Group (HPG) werk dae aaneen om die polisie se werk vír hulle te doen, net vir die polisie om dan verhoorafwagtendes uit die stelle te laat “ontsnap”, vra lesers met reg.

Dit gaan Die Pos se verstand te bowe dat ’n polisielid met ’n hoë pos in mediakringe in Limpopo die afgelope week tydens ’n privaat gesprek met Die Pos te kenne gegee het dat hy glad nie weet wie of wat HPG is nie. Werklik?

Suid-Afrikaanse owerheidsinstellings is berug daarvoor dat hulle meer begaan is oor wie die fluitjieblaser is, as oor die skokkende bewerings wat soms oor hulle gemaak word. Die Pos het die afgelope ruk, veral sedert ons onlangse beriggewing oor die beweerde ongerymdhede met grondtransaksies op Bela-Bela, die Swart Maandag-optogte en die opspraakwekkende onthullings wat in die joernalis Jacques Pauw se boek oor pres. Jacob Zuma en sy “vriende” gemaak word, opnuut bewus geraak van hoe baie mense daar is wat “dinge weet”, maar tot die dood toe bang is om daaroor uit te praat.

Die Pos bring vandag hulde aan hulle wat die reguit, eerbare pad stap terwyl ander om hulle hul pligte liederlik versuim en gerieflik die “hand in die geldkoffertjie” het. 

En dalk net dít om aan te herkou: Om stil te bly oor ’n misdryf, is ook ’n misdryf.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories