HOOFSTORIES: •   Man in hof ná mesaanval   •   Huismoeder van kinderhuis in hof ná vuishou   •   Nuwe speaker en hoofsweep gekies   •   Massapatrollie verhoog sigbare polisiëring   •   Sirens blaring during police chase   •   Nuwe baadjie vir GPF   •   Inwoner sterf in vliegongeluk   •   Mookgophong in duister gelaat   •   Wees versigtig vir dodelike 'zombiedwelm'   •   Verdagtes verdwyn met vuurwapens   •   N-nommerplate nou onwettig op SA-paaie   •   Brief: Mugabe se bedanking welkom   •   Biblioteek kry groot skenking   •   Klein Hansies bedank vir prestasies
 

 
 

 

Dopperfees bied iets vir almal


   02 June 2017   l   Die Pos-span/The Post team    l   Views: 205   l   5 months ago  

 

Die Gereformeerde Kerk op Bela-Bela hou op Saterdag, 3 Junie, weer hul gewilde Dopperfees.


Die Gereformeerde Kerk op Bela-Bela hou op Saterdag, 3 Junie, weer hul gewilde basaar. 

Die Dopperfees, soos die basaar bekendstaan, word gekenmerk as ’n baie gesellige basaar met meer as genoeg te eet en te drink — boonop teen baie bekostigbare pryse. 

Hulle het weer baie goeie aanbiedings op vleis: slegs A-graad en supergraad word verkoop — beslis teen die beste pryse. “Kom soek gerus uit, gesien in die lig van die stygende vleispryse wat ons almal se sakke knou,” nooi hulle. Van die snitte (en pryse) wat beskikbaar is, is die volgende: kruisstuk/lendestuk teen R85/kg, benevleis teen R30/kg, maalvleis teen R60/kg, sopvleis teen R55/kg en wildsbiltong teen R150/kg. 

Daar sal ook lam, vark en hoender te koop wees. Gaste word genooi om vroeg te kom om teleurstelling te voorkom.

Sinoniem met basaar is natuurlik pannekoek, heerlike varsgebakte vetkoek (met of sonder maalvleisvulsel), kerrie en rys, baie koek en kleinkoekies en beskuit — om nie te praat van die basaarpoeding nie! Besoekers sal ook kan kies uit ’n verskeidenheid wors met heerlike tamatie- en uiesous of kaiings.

Terwyl almal kuier, kyk en geniet, is daar ook iets vir die droë winterkele by die teetuin te koop: koffie, tee, warmsjokolade, cappuccino, asook ’n verskeidenheid koeldranke. Met al die aankope kan diegene met moeë voete sommer by die tafels in die teetuin rus. 

Die wit olifanttafel bied ook heelwat interessanthede. Vir die kinders is daar weer ’n stalletjie vol lekkernye en ander snuisterye. Dan kan hulle ook sommer ’n bietjie op die springkasteel spring. Die organiseerders herinner ook die kinders om die advertensie wat hulle by die skool ontvang het saam te bring om ’n (gratis) melkysie te kry. 

Die trompoppies van Bosveldspruitjies Kleuterskool, asook die dansgroep van Laerskool Warmbad sal besoekers vermaak. Volgens die organiseerders is dit werklik ’n plesier om hulle by die basaar te ontvang. 

Die basaar begin om 08:00. Daar sal ’n kaartgerief beskikbaar wees vir diegene wat nie met baie kontant wil rondloop nie. Die basaar vind plaas op die kerkterrein naby die sirkel wat na Oosthuizenstraat lei. 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories