HOOFSTORIES: •   Ons het die gees ja man ja!   •   Mookgophong dae lank sonder water   •   Varke op vragmotor in vlammehel   •   Kind (13) al 30 dae weg   •   Vyf vas ná plaasaanval   •   Ongeluk nadat agent agter stuur flou word   •   Dorp op dieselfde pad as Kaap   •   Woede oor beskuldiging op Facebook   •   Renoster het nie 'aangeval'   •   Riders take on 1162km for disadvantaged schools   •   Miljoendollarduif mik vir Verenigde State   •   Droogte kniehalter Bosveldmyl
 

 
 

 

Hof hoor grugetuienis aan


   02 February 2018   l   Ronél van Jaarsveld    l   Views: 228   l   20 days ago  

 

Lawrence Makhanzi se opgekapte liggaam is in 2015 deur munisipale werkers naby die Warmbaddam gevind.


Die hof op Modimolle het ’n man wat aangekla word van ’n grusame moord in 2015, se weergawe van die gebeure aangehoor. 

Hercules Delport, (48) word daarvan beskuldig dat hy en sy medepligtige, Clifford Cawood, vir Lawrence Makhanzi vermoor het. Makhanzi se opgekapte liggaam is in 2015 deur munisipale werkers naby die Warmbaddam gevind. Cawood (30) het in 2016 in aanhouding by die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria aan onbekende oorsake gesterf. 

Delport, skoongeskeer en geklee in ’n gestreepte sweetpakbaadjie en swaar voetboeie, het op Donderdag 25 Januarie aan die hof vertel wat op die noodlottige dag van 15 Junie 2015 gebeur het. Hy het die blaam op Cawood geplaas. 

Volgens hom was hy en Makhanzi kollegas en goeie vriende. Hulle het ses maande lank saam gewerk. “Daar was tye dat ek meer by sý huis was as my eie,” het hy gesê. Hulle het vir ’n veiligheidsonderneming in Modjadjiskloof gewerk en daagliks geld by ondernemings gaan oplaai en bank toe geneem. Hulle het ook seker gemaak dat wagte op hul poste is. 

Volgens hom het hy Cawood slegs ’n paar keer vantevore ontmoet. Hy het hom weer op 5 Junie 2015 raakgeloop. Hy het gesê Cawood het hom op 13 Junie 2015 gebel en gesê dat hy saam met hom wil rondry terwyl hy werk. Delport het getuig hy het geweier omdat hulle met geld werk. 

Makhanzi, Cawood en Delport het op 15 Junie in werkstyd saam gekuier by Makhanzi se vriendin in Kgophane, ’n gebied buite Modjadjiskloof, wat Delport beweer hy nie geken het nie. Hul werkgewer het gebel en Delport wou terug Tzaneen toe. “Ek het gevra Makhanzi moet my terugneem, omdat ek nie die pad geken het nie en dit reeds donker was,” het hy getuig. 

Op pad terug het hulle op ’n grondpad stilgehou om te urineer. “Ek het aan die bestuurderskant uitgeklim en hulle aan die ander kant. Ek het ’n harde slag gehoor soos voete wat stamp. Ek het gaan kyk en Cawood het met ’n gebuigde pyp in sy hand gestaan. Ek kon nie vir Makhanzi sien nie,” het hy gesê. Volgens hom het Cawood gesê: “Nou het ek hom gewys wie is baas en wie is Klaas.” 

Delport het gesê hy het vir Makhanzi op die grond gekry. Hy was bebloed en daar was geen teken van lewe nie. Delport het gesê hy wou ’n ambulans ontbied, maar Cawood het ’n vuurwapen uitgehaal en hom gedreig. 

Op ’n vraag van sy regsverteenwoordiger oor wat aanleiding tot die aanval gegee het, het Delport gesê Cawood wou vroeër die dag voor in die Bantam-bakkie sit. Daar was ’n rusie en Delport het gesê dit is sy en Makhanzi se werksbakkie en daarom sit Makhanzi voor. Hy het bestuur en Cawood het agterop die bakkie gesit. Daar het ook die vorige dag R400 uit Makhanzi se beursie verdwyn, maar Cawood het ontken dat dit hy was wat dit gesteel het.

Volgens Delport se getuienis het ’n gewapende Cawood hom gedwing om Makhanzi op die bakkie te laai. Die twee het heelnag rondgery en Mkanzi kort-kort af- en weer opgelaai. Hulle het vroegoggend op Bela-Bela aangekom, waar hulle sy liggaam in die bosse naby die dam afgelaai het. Cawood het glo die pyp in die water gegooi en hulle het die bakkie gewas. 

Op Cawood se aandrang is hulle Pretoria toe waar Cawood ’n woonstel in Pretoriusstraat gekry het. Volgens Delport het Cawood gesê as hy met iemand praat, gaan hy vir Delport skiet. Cawood se “dwelmverskaffer” het hom glo ’n paar keer besoek en tydens een van dié besoeke het Delport ontsnap. 

“Ek het net aangehou hardloop. Ek was baie bang vir Cawood,” het hy uitdrukkingloos getuig. Hy het steeds Makhanzi se bankkaart by hom gehad en dié geld gebruik om Durban toe te vlug. “Ek was bang om polisie toe te gaan of om my familie te kontak. Cawood het gesê as ek praat, gaan hulle my toesluit, want my DNA is agterop die bakkie,” het hy gesê.

Hy het op 3 Januarie 2016 met sy familie kontak gemaak en is die volgende dag by hulle in hegtenis geneem. 

Hy dien tans ’n 15 jaar lange vonnis in Boksburg uit vir die onwettige besit van ’n vuurwapen. Volgens hom het hy die wapen aangeskaf om homself teen Cawood te beskerm. 

Die saak is uitgestel vir betoë. 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories