HOOFSTORIES: •   Reën veroorsaak skade; dam nog leeg   •   Sakke dagga gevind   •   Jong leerder vergruis kakebeen ná val   •   Grond op Vaalwater onwettig betree   •   Kontrakteur sê hy is omkoopgeld gevra   •   Afriforum maak dorp skoon terwyl werkers staak   •   Inwoners keelvol vir dienslewering   •   Liggiehuis lok van heinde en ver   •   Munisipale skuld moet beter bestuur word   •   Disabled people also need a future   •   Brief: vat inwoners vas oor vullis   •   Eskom krag-krisis afgeweer   •   Twee renosters buite Vaalwater gestroop   •   Quick recovery after reports of stolen vehicle   •   Organisation to equip youth with skills
 

 
 

 

Gregan skuldig bevind op drie klagtes


   01 December 2017   l   Ronél van Jaarsveld    l   Views: 2086   l   17 days ago  

 

Sydney Gregan, ’n voormalige prokureur van Modimolle, is skuldig bevind op drie klagte van diefstal.


’n Voormalige prokureur van Modimolle, Sydney Gregan, is op Maandag, 27 November, skuldig bevind op drie aanklagte van diefstal. 

Gregan, wat aanvanklik in die streekshof op Modimolle skuld ontken het op drie klagte van diefstal, een van bedrog en nog ’n klag dat hy die prokureurswet oortree het, het sy pleit vandeesweek na skuldig verander op die drie diefstalklagte. Hy was tydens die verrigtinge in ’n netjiese, donker pak geklee en het gespanne voorgekom. 

Landdros Pieter Manthata het Gregan vrygespreek op die twee klagte van bedrog en oortreding van die prokureurswet omdat die staat nie genoegsame bewyse daarvoor aan die hof voorgelê het nie. 

Die eerste klag waarop Gregan onskuldig bevind is, het gehandel oor tekorte in sy trustrekening. Die staat het beweer dat Gregan in die tydperk van 28 Februarie 2009 tot 28 Februarie 2010 trustgelde van meer as R4 miljoen gesteel het. Tekorte in ’n prokureur se trustrekening is ’n misdaad. Gregan is ook onskuldig bevind daaraan dat hy die prokureurswet oortree het deur as prokureur op te tree vir ’n kliënt sonder om haar in kennis te stel dat hy van die rol geskrap is. 

Gregan is daaraan skuldig bevind dat hy R7 miljoen wat Absa in Maart 2010 verkeerdelik in sy rekening inbetaal het, gesteel het. Lynne Ferguson van Absa se regsafdeling, het getuig dat hulle die duplisering van ’n betaling eers maande later agtergekom het. Ná lang korrespondensie met Gregan waarin hy reëlings wou tref om dit terug te betaal, het sy glo besef dat die geld “weg” is en nie verhaal kon word nie. Die prokureursgetrouheidsfonds het glo R10 miljoen aan Absa uitbetaal — R7 miljoen plus rente van ongeveer R3 miljoen. 

Gregan is ook skuldig bevind op ’n diefstalklag wat verband hou met ’n eiendom wat hy in 2007 saam met ds. Wynand Rademeyer van Modimolle vir R450 000 gekoop het. Gregan en Rademeyer het die huis in ’n beslote korporasie gekoop waarin elkeen ’n 50%-ledebelang gehad het. Rademeyer het die helfte van die koopprys en transaksiekostes in Gregan se trustrekening inbetaal en Gregan sou dan ’n verband op die eiendom registreer vir die oorblywende bedrag. 

Hy het egter sonder Rademeyer se medewete ’n verband van R486 000 geregistreer. Sy ledebelang is in Oktober 2008 aan Rademeyer vir R230 000 verkoop, waarmee hy die verband moes aflos. Dit het egter nie gebeur nie. 

Rademeyer het Maandag in die hof getuig dat hy besef het dat hy vir die uitstaande R486 000 verantwoordelik is toe hy die titelakte van die eiendom ontvang het. Om te keer dat hy die eiendom verloor, moes hy etlike maande die paaiement alleen betaal voordat die eiendom verkoop is. 

Gregan het Rademeyer deur sy regsverteenwoordiger om verskoning gevra. 

Die derde klag waarop Gregan skuldig bevind is, behels dat hy R45 000, wat in sy trustrekening betaal is nadat een van sy kliënte ’n loongeskil gewen het, nooit aan die kliënt oorbetaal het nie.  

Die streekshof sal op 22 en 27 Maart getuienis ter strafversagting aanhoor en vonnisoplegging vind op Donderdag, 19 April 2018 plaas.

 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       

 

NEEM ASSEBLIEF KENNIS:

Die Pos se kantore sluit op Vrydag, 15 Desember 2017 en heropen weer op Maandag, 8 Januarie 2018.

GESEËNDE KERSFEES EN VOORSPOED VIR 2018 WORD AL ONS LESERS TOEGEWENS.


Ander stories