HOOFSTORIES: •   Skok ná speaker onverwags bedank   •   Diensverskaffer begaan flater met rekeninge   •   EFF plak nou op ander stuk grond   •   Eskom gaan nie krag sny   •   Ondersoek ná klagtes oor polisie   •   Bela-Bela-inwoners loop deur onder otm-boewe   •   GPF ontbind ná klagte teen hoof   •   'Doom-profeet' se verhoor begin   •   Vrou sterf op R101-pad   •   Poging tot plaasaanval glo vals alarm   •   Dorp moontlik sonder krag   •   Jagters vereer   •   Hoërskool Warmbad-leerders presteer   •   Atlete sweet tydens gewilde marathon
 

 
 

 

Burgemeester ontken dat hy grondaansoek teken


   03 November 2017   l   Andries van der Heyde    l   Views: 536   l   20 days ago  

 

Bela-Bela burgemeester, Jeremia Ngobeni.


Die burgemeester van Bela-Bela sê iemand het sy handtekening vervals op ’n koopaansoek van R80 miljoen.

Dit volg ná twee weke van drama oor beweerde korrupsie by grondtransaksies waarby talle mense op Bela-Bela glo betrokke is.

 Jeremiah Ngobeni, Bela-Bela-burgemeester, het in ’n gesprek met Die Pos ontken dat hy enigsins by dié ongerymdhede betrokke is.

Die Pos is in besit van ’n afskrif waarin die munisipaliteit ’n grondtransaksie-aansoek aan die departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (CoGHSTA) gerig het om grond in die omgewing te koop. 

Die grond ter sprake in die aansoek is die gedeelte KR 496, wat aan die Elnet Trust behoort en teenaan Uitbreiding 9 van die Bela-Bela-township grens.

In die aansoek word daar gevra dat die behuisingsontwikkelingsagentskap (HDA) en CoGHSTA die munisipaliteit finansieel met die koop van die grond moet help. Die doel hiervan is om die agterstand vir behuising in die omgewing die hoof te bied. Die bedrag ter sprake is na verneem word R80 miljoen.

Die aansoek, gedateer 5 September 2017, is skynbaar deur Ngobeni onderteken.

Die Pos het die saak met hom bespreek, maar Ngobeni het dit ten sterkste ontken en gesê hy het nooit die aansoek geteken nie en die handtekening op die aansoek is nie syne nie.

Hy het voorbeelde van sy handtekening in Die Pos se teenwoordigheid op papier gemaak en dit lyk heel anders as die handtekening op die aansoek. 

Ngobeni het verder gesê hy was wel vooraf bewus van die aansoek, maar dat hy destyds geweier het om dit te teken.

“Ek distansieer myself van hierdie aansoek, want ek was vooraf daarteen gekant. Ons is egter van plan om ’n ondersoek te loods om vas te stel wie die aansoek namens my probeer teken het,” het hy gesê.

Die beoogde transaksie op die grond is volgens Ngobeni intussen gekeer.

David Rabololo, munisipale woordvoerder, het verlede week aan Die Pos gesê daar kan op hierdie stadium geen ontwikkelings op die dorp plaasvind alvorens die infrastruktuur om basiese dienste te verskaf, opgegradeer is nie.

  • Die Pos het teen druktyd verneem dat die provinsiale regering geen moratorium op die aankoop van grond geplaas het nie. Motupa Selomo, CoGHSTA se provinsiale woordvoerder, het by navraag gesê hy dra geen kennis dat CoGHSTA ’n moratorium op die aankoop van grond in werking gestel het nie.

Rabololo en Ngobeni het ook aan Die Pos gesê die munisipaliteit is nie bewus van ’n moratorium op grondtransaksies in die omgewing nie.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories