HOOFSTORIES: •   Man in hof ná mesaanval   •   Huismoeder van kinderhuis in hof ná vuishou   •   Nuwe speaker en hoofsweep gekies   •   Massapatrollie verhoog sigbare polisiëring   •   Sirens blaring during police chase   •   Nuwe baadjie vir GPF   •   Inwoner sterf in vliegongeluk   •   Mookgophong in duister gelaat   •   Wees versigtig vir dodelike 'zombiedwelm'   •   Verdagtes verdwyn met vuurwapens   •   N-nommerplate nou onwettig op SA-paaie   •   Brief: Mugabe se bedanking welkom   •   Biblioteek kry groot skenking   •   Klein Hansies bedank vir prestasies
 

 
 

 

Só lyk mans wat verdink word van wrede Peterson-aanval


   20 October 2017   l   Andries van der Heyde    l   Views: 47   l   35 days ago  

 

Tshepo Tebula.


Die drie mans wat in September in hegtenis geneem is ná die aanval op Cecil Peterson (83) en die moord op sy vrou, Pattie (73), op die plaas TNT Trading tussen Bela-Bela en Modimolle, het op Vrydag, 13 Oktober, ’n borgtogaansoek in die Bela-Bela-landdroshof gebring.

Vier mans het die egpaar glo op Woensdagoggend, 13 September, op die plaas probeer beroof. 

Pattie is noodlottig in die maag geskiet en Cecil is in die kakebeen geskiet. Hy het die aanval oorleef, maar ’n lang herstelpad lê vir hom voor.

Die verdagtes het kort ná die aanval op die vlug geslaan en ’n reusesoektog is na hulle geloods.

Drie van die verdagtes is twee weke ná die voorval in Hammanskraal tydens ’n gesamentlike polisieklopjag met die hulp van die Heritage Protection Group (HPG) in hegtenis geneem.

Die polisie het op ’n 9 mm pistool, ammunisie, een selfoon, asook kontant, beslag gelê.

Die verdagtes, Piet Mathebula, Mpho Nico Nkonyana en Tshepo Tebula, word aangekla van moord, poging tot moord, aanranding, roof met verswarende omstandighede en die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie.

Nkonyana verskyn ook op ’n bykomende klag weens die besit van ’n gesteelde selfoon wat glo aan Cecil behoort het.

Daar is verlede week in die hof gehoor dat die drie glo die rooftog beplan het en die bedoeling gehad het om die egpaar leed aan te doen. Die staatsaanklaer het aangedui dat die staat die mans se borgtogaansoek sal teenstaan.

Profiele is sedert die drie se eerste verskyning saamgestel en hul regsverteenwoordiger het dit in die hof voorgelees.

Daar is gehoor dat al drie verdagtes permanent in Hammanskraal woon. Mathebula en Nkonyana het in die hof beken dat hulle voorheen weens beweerde misdade ondersoek is. 

Mathebula is getroud met vyf kinders — wat ’n tweeling insluit, Nkonyana het een kind en Tebula, ’n wewenaar, het vyf kinders.

Nkonyana het verklaar dat hy werkloos is.

Die borgtogaansoek is uitgestel na Donderdag, 19 Oktober, sodat die staat hul saak kan voorberei.

Die ondersoekbeampte in die saak is kapt. Renier Schutte.

Die verdagtes is steeds in aanhouding.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories