HOOFSTORIES: •   Skok ná nog ’n selfdood   •   Stropers loop hul vas   •   Sentrum wemel van polisie ná vals alarm   •   Goeie nuus vir Salusoord-inwoners   •   Leeustropers slaan weer toe in Vaalwater   •   Hoë tariewe reggestel   •   Rowers teiken weer winkel in hoofstraat   •   "Ons bring werksgeleenthede" sê myn   •   Diewe teiken hoërskool   •   Weg met mishandeling!   •   Tuinmaak is terapeuties   •   Burgemeester deel sukses-wenke   •   Atlete sweet tydens strawwe driekamp
 

 
 

 

Rekenaardiewe slaan weer by Laerskool Warmbad toe


   11 August 2017   l   Andries van der Heyde    l   Views: 859   l   11 days ago  

 

Laerskool Warmbad het weer deurgeloop nadat diewe 40 skootrekenaars uit die skool se rekenaarsentrum gesteel het. Op die skermgreep is een van die vyf verdagtes besig om die buit weg te dra.


Laerskool Warmbad is op Woensdag, 2 Augustus, vir die tweede agtereenvolgende jaar deur diewe geteiken toe daar wéér by die skool se rekenaarsentrum ingebreek en 40 rekenaars gesteel is.

Die Pos is toegang tot die veiligheids-kameraopnames verleen. 

Die vyf verdagtes wat op die beeldma-teriaal gesien word, het die skool ongeveer 23:00 betree. Hulle het die slot by die skool se hek in Pienaarstraat geknip. Daar kan op die beeldmateriaal gesien word hoe hulle op en af op die stoepe in die omgewing van die rekenaarsentrum loop. Van die verdagtes se gesigte kan met tye duidelik op die beeldmateriaal gesien word. ’n Onbekende voertuig, wat aanhoudend om die skool ry en wat vermoedelik deur die verdagtes gebruik is, kan ook in die agtergrond gesien word.  

Die verdagtes het ongeveer 23:52 by die rekenaarsentrum ingebreek en die alarm het afgegaan. 

Daar kan op die kamera binne die klas-kamer, wat ’n ingeboude klankopnemer het, gehoor word hoe die diewe mekaar aanjaag terwyl hulle die skootrekenaars een vir een ontkoppel en wegdra.

Die diewe het teen 23:55 met die buit verdwyn. Veiligheidsdienste het net ná middernag by die skool opgedaag, maar die booswigte én die buit was toe reeds weg.

Laerskool Warmbad het in Junie verlede jaar ook deurgeloop. Die skool se kluis is toe oopgesaag, kantore omgekeer en die rekenaarsentrum ook leeg gedra. Die diewe het ook tydens verlede jaar se inbraak op verskeie plekke op die skoolterrein ontlas.

Hennie Coetzee, skoolhoof, het gesê klasse gaan voort en die veiligheid by die skool sal weer opgeskerp word. Hy het ’n waarskuwing aan ander skole in die omge-wing gerig om hul veiligheidsmaatreëls te verbeter en gesê skole moet op die uitkyk wees vir verdagte aktiwiteite.

’n Saak van huisbraak en diefstal word deur die Bela-Bela-polisie ondersoek.

Mense wat enige inligting oor die voorval het, kan die Bela-Bela-polisie by tel. (014) 736 9760/1 of die ondersoekbeampte by tel. 061 220 2579 skakel.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       



Ander stories