HOOFSTORIES: •   Gru-ongeluk eis twee lewens   •   Foreign nationals targeted   •   Dak van vulstasie windskeef ná trok stamp   •   Geen skoon oudit vir Limpopo-munisipaliteite   •   Nuwe selfoon-slenter   •   Narcotics anonymous wants to expand   •   SAPD-klopjag suksesvol   •   Human trafficking a 'multi-million industry'   •   Brief: Wat is die WARE waterprobleem?   •   Dansers wys hul staal   •   Vuurwarm skolerugby   •   Gholftoernooi in volle swang   •   Coetzee's keep cycling titles in family
 

 
 

 

Jagter in huis geskiet


   21 April 2017   l   Ronél van Jaarsveld    l   Views: 394   l   2 months ago  

 

Sakkie Bloem word deur verskeie nooddienswerkers op die dorp gestabiliseer nadat hy in die skouer geskiet is tydens ’n rooftog op die dorp. Minute ná die voorval is die GPF, polisie en HPG se hulp ingeroep en ’n wye soektog, wat tot die in hegtenisname van ’n verdagte en die terugvind van die voertuig gelei het, het gevolg.


’n Aanval helderoordag op ’n beroepsjagter op Modimolle het verlede week ’n groot opskudding veroorsaak.

’n Groot soektog is binne minute ná die aanval van stapel gestuur om die verdagtes en die gesteelde voertuig op te spoor. 

Die 36-jarige Sakkie Bloem is op Dinsdag, 11 April, net ná 14:00 by sy huis in Giraffestraat deur drie mans oorval. Volgens berigte het Bloem op sy bed televisie gekyk. Drie onbekende mans het die huis ingekom en op hom losgebrand toe hy hulle sien. Hy is in die regterskouer gewond. Die rowers het sy hande met ’n selfoonkoord vasgebind en ’n handdoek oor sy gesig gegooi. Hulle het aangedring op geld en wapens.

Bloem se hande én voete is daarna agter sy rug vasgebind en die mans is met sy wit Toyota-bakkie fort. Sy jaggeweer was nog in die voertuig. 

’n Bloeiende Bloem het van die bed afgerol en ’n tang, wat langs die bed gelê het, gebruik om die koord los te sny. Hy het hulp gaan soek by sy buurman, Pat Loots. 

“Ek het my boeglam geskrik. Ek het op die rekenaar gewerk toe my vrou, Annatjie, roep dat daar ’n bloeiende man voor die huis staan,” het hy gesê. Loots het ’n noodkreet op een van die veiligheidsgroepe geplaas en met Bloem na dr. Mich Veldman se spreekkamers gehaas. 

Dr. Carel Pretorius, met die hulp van provinsiale paramedici, het Bloem gestabiliseer, waarna APA Ambulansdienste hom na die Montana-hospitaal in Pretoria vervoer het, het Martie Jonker van die ambulans-dienste, aan Die Pos gesê. Ná Loots se WhatsApp-boodskap het die gemeenskappolisiëringsforum (GPF) ’n wye soektog ontplooi en die boodskap vinnig onder inwoners versprei. “Die GPF-lede het blitsig gereageer en was gou op die voorvlugtendes se spoor,” het ao. James Findlay van die Mo-dimolle-polisie gesê. “Die samewerking tussen die gemeenskap en polisie was uitstekend.”

’n Lid van die GPF het die wit bakkie op die N1-suid opgemerk en die inligting deurgegee. Die bakkie is ’n ruk later verlate naby Pienaarsrivier opgespoor. Teen dié tyd het die polisie van Rust de Winter en Pienaarsrivier, twee helikopters, asook die veiligheidsgroep Heritage Protection Group (HPG), deelgeneem aan die soektog. Een van die vermeende aan-vallers is vasgetrek. 

Gideon Ramsena (49), ’n Suid-Afrikaanse burger, is in hegtenis geneem. Hy sou op Donderdag, 20 April, in die hof verskyn het. Die ander twee aanvallers is nog op vrye voet. 

“Die mense se paraatheid en samewerking was wonderlik. Ek glo vas dat ons vinnige reaksie die rede is waarom die voertuig gevind en ’n verdagte in hegtenis geneem is,” het Barend Pienaar van die GPF gesê. Volgens hom het inwoners gesê hulle het die drie mans vroeër die dag in die nabygeleë parkie gesien sit. 

Bloem is op Saterdag, 15 April, uit die hospitaal ontslaan. Die Pos verneem dat die koeël sy longe rakelings gemis het en dat hy ten volle sal herstel.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       



Ander stories