Werker dood ná skietongeluk


   17 February 2017   l   Ronél van Jaarsveld    l   Views: 2169   

 

Stefan Hepburn (38) het op Maandag, 13 Februarie, in die hof op Modimolle verskyn op ’n klag van moord nadat hy glo ’n 23-jarige man in ’n mielieland op Tuinplaas doodgeskiet het tydens ’n bosvarkjag.  Foto: SABC.


’n Tragedie het verlede naweek in ’n mielieland op Tuinplaas afgespeel nadat ’n jong man tydens ’n bosvarkjag doodgeskiet is.

Die 23-jarige Jan Railwa is op die toneel dood nadat Stefan Hepburn (38) en sy vrou, Anel, glo beweging tussen die mielies vir ’n bosvark aangesien en ’n skoot afgevuur het. Hepburn het op Maandag, 13 Februarie, op ’n klag van moord in die hof op Modimolle verskyn. Hy bly in aanhouding tot daar op Donderdag, 16 Februarie, om borgtog aansoek gedoen word. 

Hepburn, wat in Pretoria woon, het op die plaas Meisjesvlei in die Tuinplaas-omgewing, wat deur vriende gehuur word, bosvarke gaan skiet. Ná die voorval het Hepburn glo onmiddellik die Tuinplaas-polisie gekontak en self na die polisiekantoor gery. In die hof is aangevoer dat die polisie eers twee uur later opgedaag het, waarna ’n verklaring geneem is en hulle gesê het dat hy kan terugkeer huis toe. Sy vingerafdrukke is glo eers Maandagoggend, op aandrang van sy regsverteenwoordiger, geneem. 

Hepburn se ontstelde regsverteenwoordiger het gesê vier polisievoertuie het Sondagaand omstreeks 20:30 met loeiende sirenes by Hepburn se huis in Pretoria opgedaag. Veertien gewapende offisiere het sy huis bestorm en die agterdeur oopgedwing, waarna hulle Hepburn voor sy vrou en minderjarige kinders in hegtenis geneem en terug Modimolle toe gebring het. Hepburn is eers op Maandagmiddag om 12:40 formeel aangekla nadat die klag van strafbare manslag na moord verander is. 

“Dié optrede van die polisie was onsinnig en kwaadwillig. My kliënt het sy volle samewerking gegee en was bereid om homself Maandagoggend aan te meld. Hy het sy paspoort, bankstate, bewys van vuurwapenlisensies, adres en werk vrywillig verskaf,” het sy regsverteenwoordiger aangevoer. Hy het gesê dat hulle dié saak in die siviele hof verder sal neem. 

Telkens as die hof verdaag het, het toeskouers luidkeels vanuit die openbare galery vir Hepburn geskree “Moordenaar!”, “Wys sy gesig vir die wêreld, ons weet waar hy bly!” en “Ons gaan sy vrou vir ons vat!”. 

Die staat het borgtog teëgestaan en gevra vir sewe dae uitstel omdat hulle meer tyd nodig het om Hepburn se besonderhede te bevestig. 

Die landdros het drie dae uitstel toegestaan. 

Railwa, wat glo ’n werker op ’n buurplaas was, is volgens toeskouers in die galery van Siyabuswa afkomstig. Dit is nie bekend hoekom hy daardie tyd van die aand in die mielieland was nie. 

Van Hepburn se vriende, wat verkies om anoniem te bly, het aan Die Pos gesê hulle skiet gereeld varke omdat die diere groot skade in die mielielande veroorsaak. 

“Al ons werkers het geweet dat daar oor naweke by die lande geskiet word en niemand daar moet rondloop nie. Dié voorval was ’n vreeslike groot skok,” het hulle gesê.

  • Hou Die Pos se Facebook-blad, Pos-koerant Limpopo, dop vir die nuutste nuus tydens Donderdag se borgaansoek.

 

 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first

 

Ander stories

 
 

Hoofnuus