HOOFSTORIES: •   Bekende boer sterf tragies   •   Leeus spring vergiftiging vry   •   Haarkapper dood in motorhuis gevind   •   Man by reservaat beroof en vasgebind   •   Fondsinsameling vir kankerlyertjie   •   Epilepsielyer breek rugwerwel   •   Bekende prokureur ontken skuld   •   Ongeluk eis vrou se lewe   •   Vrou met honderde katte vra hulp   •   Verkeersman rol motor   •   Diewe weer doenig op Noodhulp   •   Warries vier 70 goue jare   •   Vaalwater musician going places   •   Klub Helpmekaar groet staatmaker   •   Polisie hou bewusmakingsdag   •   Godsdiens steeds in skole   •   Spelers presteer goed tydens Bokkieweek   •   Local student studied in Cuba   •   Fly in weer ’n hoogtepunt
 

 
 

 

Man sterf grusaam tydens plaasaanval


   17 February 2017   l   Andries van der Heyde    l   Views: 20388   l   5 months ago  

 


’n Grootskeepse soektog na vermeende aanvallers is geloods nadat Ryno Janse van Rensburg (36) van Roodekuil buite Bela-Bela op Dinsdag, 14 Februarie, dood by sy huis aangetref is. 

Dit is die derde aanval in drie maande wat in hierdie omgewing plaasgevind het. Gerhard Louw is in Desember aangeval en John Ramalho in Januarie. Die jongste aanval het omtrent ’n kilometer van die eerste twee op die Roodekuil-hoewes plaasgevind.

Volgens lt.kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in die provinsie, het dié voorval glo op Maandag, 13 Februarie, plaasgevind.

Die laaste wat mense van Janse van Rensburg gehoor het, was omstreeks Maandag om 19:30 toe hy van die werk af na die hoewe op Turfbult gery het. Janse van Rensburg het volgens inligting van RTL-buurtwag (wat deur AfriForum gestig is) onder meer heinings gespan. 

Die volgende oggend, omstreeks 07:50, het een van sy kollegas hom dood by die ingang na die huis se kombuis aangetref en die polisie ontbied, het Ngoepe gesê. 

Dit is vir die buurtwag en die polisie vreemd dat niks uit die huis gesteel is nie. Al wat vermis word, is die slagoffer se selfoon.

Chris Esterhuizen, voorsitter van die RTL-buurtwag, het by navraag gesê die oggend toe daar op Janse van Rensburg se liggaam afgekom is, was die hekke na die hoewe steeds gesluit en die honde was steeds in hul hokke.

“Die aanvallers, waarskynlik twee, het hom vermoedelik by sy bakkie ingewag. Daar was tekens dat ’n stoeiery op die erf plaasgevind het en ’n plas bloed is gevind. Die aanvallers het hom vermoedelik herhaaldelik met ’n pyp oor die kop geslaan,” het Esterhuizen gesê.

Janse van Rensburg het sover vasgestel kon word alleen op die hoewe gewoon en die eiendom vir die eienaars, wat op daardie stadium in ’n ander provinsie was, opgepas, het Esterhuizen gesê. 

Die lede het Janse van Rensburg se selfoon met behulp van ’n opsporingstoestel in die Majaneng-omgewing op Hammanskraal opgespoor, maar die sein het toe verdwyn.  

Kol. Abel Phetla, speurtakhoof op Bela-Bela, het dit bevestig.

Hy het gesê iemand is deur die polisie ingebring vir ondervraging, maar toe weer vrygelaat.

Phetla het voorts gesê Janse van Rensburg se familie is reeds van sy afsterwe in kennis gestel.

Marius Müller, nasionale veiligheidskoördineerder van AfriForum, het by navraag gesê dit is tyd vir inwoners om hulself te bewapen.

“Mense moet hulself kan verdedig en die nodige dokumentasie, asook kursusse, is beskikbaar. Ons volgende plan is om ’n vergadering met die inwoners en buurtwagte te hou. Dit is uiters belangrik dat mense moet inskakel,” het hy gesê.

Lede van die Heritage Protection Group (HPG), Bela-Bela Crime Support-groep (BBCS), lede van die polisie, asook foren-siese-eenheid was op die toneel.

Die motief agter die moord is steeds onbekend en niemand is in hegtenis geneem. 

Besoek die webwerf www.RTLbuurtwag.simplesite.com vir die volledige kontaknommers van die RTL-buurtwag. Enigiemand met inligting oor die voorval kan vir kapt. Richard Boshomane bel by tel. 084 322 1341 of die Bela-Bela-polisie by tel. (014) 736 9760/1.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       



Ander stories